Is jy ’n vreugdegewer of ’n vreugdesteler?

Ken jy ook sulke mense wat op sjampanjeproppe in jou dag inge-zoem kom en jou opeens laat glimlag? Hulle hou van jou voorstelle in vergaderings, gee terugvoer op ’n manier wat jou laat goed voel en verras jou soms met ’n spesiale koffie.

Of hulle gee vir jou met gewuif en ’n glimlag kans om voor hulle in te draai of draf agter jou aan nadat jy jou sleutels iewers op ’n winkeltoonbank vergeet het. Dis dié vreugdegewers wat jou dag makliker en plesieriger maak en dit laat lyk of dit vir hulle ewe maklik en plesierig is om dit vir jou te doen.

Ongelukkig bestaan hulle teenoorgesteldes ook, naamlik die vreugdestelers … As jy iets van temperamente verstaan sal jy weet dat sommige mense meer gereserveerd, versigtig, pessimisties en ernstig gebore is. Dis nie na hulle wat ek verwys nie.

Ek verwys na die mense wat willens en wetens elke dag ’n kwaai of suur gesig opsit om seker te maak mense neem kennis van hulle en hul negatiwiteit. Dis asof hulle verbete keer dat enigiemand anders optimisties, tevrede en hoopvol is, want dan voel hulle bedreig.

Vreugdestelers het ’n onwrikbare oortuiging dat hoe meer negatiwiteit hulle versprei hoe beter dit met hulle sal gaan. Die Duitsers ’n mooi woord wat hiermee verband hou: “Schadenfreude”. Dit beteken letterlik “skadevreugde”.

Nou kyk, ons het almal ’n stukkie “Schadenfreude” in ons. Dis hoekom komedies waar iemand byvoorbeeld op ’n piesangskil gly so gewild is. En wees maar eerlik, as ’n kollega jou byvoorbeeld te na gekom het en jy hoor hy kry nie sy jaarlikse bonus nie, dink jy ook met ’n klein glimlaggie: Boontjie kry sy loontjie!

Ek het so aan die begin van ’n nuwe jaar gesit en dink aan almal wat in die vorige jaar op my parade probeer reën het. Ek het ook onthou van al die mense wat my soos “cheerleaders” aangemoedig het. My dankbaarheid is so groot dat daar meer vreugdegewers in my lewe is as vreugdestelers!

Wie gaan jy vir jou mense wees? Iemand wat met die liefde soos 1 Korintiërs 13 dit beskryf, altyd die beste van mense glo en vir hulle hoop? Werp jou vreugde soos brood op die water van die nuwe jaar voor jou en mag die Here jou seën met meer as ’n dosyn vreugdegewers op jou pad.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs