Is jy ‘n uitsteller?

Baie van ons sal, as ons eerlik is, JA moet antwoord op hierdie vraag. Veral wanneer dit by takies kom wat nie jou sterkpunt is nie of wat jou dood gewoon irriteer – soos admin of regpak, of dalk die moeilike oproep maak om ‘n krapperigheid in ‘n verhouding te herstel.

Waarom stel ons sekere dinge uit? Omdat daar onsekerheid, stres of ongemak is rondom die taak. Wetenskaplikes sê dis net ‘n gewoonte. Jy IS nie ‘n uitsteller nie,  maar ‘n mens wat slagoffer geword het van die uitstelgewoonte.

‘n Gewoonte, sê hulle, het drie komponente. Die eerste is die sneller – en dit is gewoonlik stres of spanning. Die tweede is ‘n patroon wat homself herhaal. Met uitstel is die herhalende patroon altyd vermyding van die taak. Die derde komponent is ‘n ingeboude beloning – in dié geval is dit ‘n tydelike verligting of ‘n uitstel van die ongemak of die taak waarvoor jy regtig nie lus het nie.

As jy graag die uitstelgewoonte wil afleer, kan jy drie dinge doen. Die eerste is om die bron van jou irritasie of stres te erken en by die naam te noem – dis gewoonlik iets wat ‘n emosie laat loskom. Die tweede is om diep asem te haal en iets te doen om jou rasionele brein aan te skakel. Soos om ‘n paar keer agteruit te tel, sommer van vyf af. Onderbreek nou jou ou patroon deur net een stap in die regte rigting te gee – doen een ding, net vir vyf minute lank.

Hierdie eerste tree sal die gewoonte soos ‘n neut begin oopkraak en jou begin vrymaak van die greep wat uitstel op jou het. As jy net eers die eerste paar papiere geliasseer het, sal jy kans sien vir die volgende taak. En voor jy jou kom kry, staan daar nie meer UITSTELLER op jou voorkop geskryf nie. Want onthou dis nie wie jy is nie – dis net ‘n gewoonte wat in jou kop kom nesmaak het.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs