Is jy ‘n prooi van jou eie Perfeksionisme?

Perfeksionisme is soos ‘n koffie-verslawing, ‘n sosiaal aanvaarbare afwyking. Om die waarheid te sê, in sekere kringe kan mense selfs opsien na jou as jy ‘n perfeksionis is – iemand wat alles deeglik en presies doen.

In temperament-taal, praat ons gewoonlik van die Perfekte Blou – die mens wat alles in die fynste detail beplan en dinge reg doen, en standaarde handhaaf waarby min kan bykom. 

Perfeksionisme affekteer nie net jouself nie. Dit raak almal om jou – by die huis, by die werk en in jou vriendekring. En die ergste is dat jy dit saam met die angs wat dit meebring, ook aan jou kinders kan oordra.

Om daarna te strewe om jou beste self te wees, is nie perfeksionisme nie. Daar is niks fout met selfverbetering, sukses en prestasie nie. Gesonde strewe na sukses is op jouself gemik en vra die vraag: Hoe kan ek myself verbeter?

Perfeksionisme, daarenteen, is op ander se opinie gerig. Dit vra die vraag: Wat gaan ander mense van my dink? Jou eiewaarde is die hele tyd op die spel. 

Dis wanneer jy glo dat om perfek te lyk en alles reg te doen, jou teen oordeel en verwerping gaan beskerm. In sy diepste wese, gaan perfeksionisme oor aanvaarding en goedkeuring deur ander. As ek dinge perfek doen, dink jy, kan ek verdien om aanvaar te word. Ek word dus my suksesse. Dis ‘n vreeslike las om ‘n perfeksionis te wees – want jou eiewaarde word deur ander bepaal.

Navorsing het bewys dat perfeksionisme sukses teenwerk. In baie gevalle lei dit tot angs, depressie en selfs verslawing. Ons verlam onsself en blok ons eie groei. Ons is te bang om te droom, want sê-nou ek misluk en ek stel myself en ander teleur? Ons is bang ons maak foute, bang om te waag en te bang om enigiets wat nie perfek is nie, die wêreld in te stuur.

Die enigste teenvoeter vir hierdie soort perfeksionisme is om jou eie feilbaarheid en weerloosheid te erken, empatie en deernis met jouself te hê. Jy moet vir jouself kan sê dat mislukking, skuld en skande deel is van almal se mens-wees.

Wanneer ons vrede maak met ons eie onvolmaaktheid, ontdek ons ons eie dapperheid en die vermoë om met ander gewone mense sinvolle verhoudings aan te gaan. Dis wanneer jy vir jouself kan begin lief word en voluit kan begin lewe!

As jy die eerste tree wil gee om jou eie perfeksionisme onder beheer te kry, moet jy die verskil verstaan tussen gesonde selfverbetering en “perfek” te probeer wees. 

Kom ek gee vir julle ‘n voorbeeld. Baie mense sukkel om die ekstra vetjies af te skud. Die perfeksionis kyk vir haarself in die spieël en sê: “Yuk, ek is vet en lelik. Ek skaam my vir myself. As ek net beter kan lyk, sal meer mense van my hou en sal ek meer vriende maak.” 

Iemand wat haarself wil verbeter, sal vir die spieël sê: “Ek is oukei en ek verdien ander se liefde en respek nes ek is. Die skaal gaan nie bepaal of ander van my hou nie. Ek gaan myself nie langer oordeel nie. Ek wil graag beter en gesonder voel. Ek kan dit doen en ek doen dit vir myself en my eie gesondheid.”

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs