Is jy ‘n Meer-Meester?

Multi-tasking is een van daai begrippe wat nie lekker in Afrikaans vertaal kan word nie. Dubbeldoener, Ratse Raakvatter, Meermeester – dis wat vir my nou boontoe kom.

Die algemene opvatting is dat dit ‘n onding is. Want, sê dié wat weet, as jy twee dinge gelyk doen, skeep jy albei af. Daar is selfs mans en mense wat glo dat Multi-tasking nie bestaan nie. 

Maar daar is genoeg vroue wat die teendeel bewys. ‘n Gemiddelde ma weet dat sy kan kosmaak en knope aanwerk terwyl sy na al drie kinders se stories vir die dag luister. En as die foon tussendeur lui, pas sy dit ook in, sonder om die kos te laat brand.

Ek laat my nie insleep by hierdie argument nie maar ek weet in my selle is ek ook ‘n Meer-Meester. Nie dat ek altyd weet waar ek die vorige projek geliasseer het nie, daarvoor is ek heeltemal te Geel van temperament.

Uit die bloute kry ek toe die week bevestiging dat ek in goeie geselskap is. ‘n Navorser wat Nobelpryswenners en van die wêreld se slimstes bestudeer, het bevind dat Einstein en Darwin en etlike ander hoogs begaafdes Multi-Meesters was.

Die geheim, sê hy, is om dit stadig te doen. Multi-Meesters wat te veel projekte met groot haas en senuagtigheid aanpak, is onsuksesvol. Hulle brand hulleself ook êrens langs die pad uit. 

Maar die Einsteins en die Darwins het regdeur hulle lewens aan meerdere projekte gelyk gewerk – en ‘n verskil in die wêreld gemaak. Darwin se stokperdjie-projek was om erdwurms te bestudeer. Dit het hy gedoen om sy aandag van die groter projekte af te lei – veral wanneer hy vasgehaak het met die ingewikkelder gedeeltes van sy navorsing.

Een suksesvolle Meer-Meester het ‘n hele klomp kartondose in haar studeerkamer staan gemaak vir al haar projekte. Sy het al haar idees, dokumente en navorsingsplanne in die verskillende bokse geliasseer, sodat sy nooit bang was dat sy ‘n kreatiewe breingolf sou mislê nie.

Ek het ongelukkig nie ‘n boks-kamer nie, maar vandat ek weet dat dit oukei is om ‘n Meer-Meester of ‘n Dubbeldoen-Dolla te wees, haal ek weer diep asem. Ek weet nou net dat ek dit stadiger moet doen…

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs