Een van die voordele – of nadele? – van die huidige grendelstaat is dat ons meer dink-tyd het. Vir die wat geleer het om die beste van ʼn beste saak te maak, is dit ʼn tyd van opruim – fisies maar ook in hulle gedagtes. Hulle ontdek nuwe dinge en maak tyd vir afgeskeepte stokperdjies en verhoudings – al is dit op nuwe, internet-maniere. (Ek weet van drie ou vriendinne in die Kaap wat elke Saterdag om 18h00 met ʼn glas wyn voor die rekenaar kuier en saam na die sonsondergang kyk. Vir solank hulle wyn-voorraad hou…)
Maar daar is ook dié wat wroeg in hierdie tyd. Ek noem hulle die Kom-kommers. Vir hulle het Covid 19 ʼn nuwe tyd van worry ingelei. Hulle bekommer hulle oor die land, die wêreld en die ekonomie. Hulle draf elke familielid deur en almal in hulle adresboekies en wonder hoe elkeen gaan oorleef. Vir elkeen – ook vir hulleself, het hulle reeds die ergste uiteinde uitgedink. Die worst case scenario, soos die Engelse sê.
Bekommernis is ʼn vorm van vrees vir iets wat in die toekoms kan gebeur. Mark Twain het gesê: “Ek het baie bekommernisse in my lewe geken – maar nie een van hulle het ooit gebeur nie.”
Ons maak ʼn groot fout om bekommernis vir onsself te regverdig – net omdat almal dit doen. Sielkundiges beskryf dit as die begin van self-sabotasie en depressie – ʼn uiters gevaarlike patroon wat uit negatiewe denke gebore word.
Hierdie vorm van vrees is nie die veg- of vlug-vrees wat jou van die leeu laat weghol en jou lewe kan red nie. Dit word ʼn patroon of gewoonte van uitgerekte vrees wat jou fisiese en emosionele gesondheid benadeel en jou immuniteit afbreek. Dit kan jou vergiftig en beroof jou van slaap en gemoedsrus en van ʼn sinvolle, gelukkige lewe.
Dit staan ook lynreg teen hoop en geloof.
Gebeure val in een van twee kategorieë: Dinge binne jou beheer, en dinge buite jou beheer. As iets binne jou beheer is, kan jy iets daaraan doen – doen wat jy kan en speel klaar daarmee. As dit buite jou beheer is, soos die ekonomie en die grendelstaat, en jy het klaar jou hande gewas en alles gedoen om jouself en jou gesin veilig te hou, aanvaar en gee oor aan die Groter Mag wat in beheer is.







