Oorlewing is om aan te hou lewe ten spyte van gevaar, bedreigings, teenspoed en moeilike omstandighede. Soms beteken dit doodgewoon dat jy langer as ander mense vasbyt.
Herlewing is om weer te begin lewe, weer tot die lewe terug te keer. Dis om nuwe krag te kry en weer te floreer, nadat jy vir ’n rukkie gestagneer het of weggekwyn het.
Daar is ’n vasgestelde seisoen vir herlewing
In die lente is die meeste mense geneig om besig te wees met so ’n tipe terugkeer tot die lewe. As die bome groen blaartjies kry en die temperatuur weer bo vriespunt is, keer die drawwers in groot getalle terug na ons paaie en skryf gimnasiums hordes nuwe lede in.
Skielik is almal weer lus vir slaai en water met suurlemoenskyfies. Die lospassende sweetpakke word weggepak en die weegskale nadergetrek om uit te werk wat moet gebeur sodat die swemklere mooi sal pas.
Party jaag kwekery toe vir bakkies saailinge en ’n paar sooie kitsgras. Ander begin kaste uitpak en was die winterstof uit hulle gordyne. Jy kry nuwe woema in jou werksywer en hersien jou doelwitte.
Tydens die heerlike lente maak dinge soos selfverbetering, die detoks van jou lewensstyl en hernieude toewyding aan jou geliefdes opeens meer sin. Lente is sinoniem met herlewing op allerlei vlakke.
Herlewing vir gelowiges gebeur egter in die winter!
By ons in die Suidelike Halfrond is dit winter wanneer ons as gelowiges op herlewing in ons konneksie met God fokus. Paasfees, wanneer ons vier dat ons mag deel in die nuwe lewe ná die opstanding, gebeur in die herfs – die voorspel tot die winter.
Pinkster, wanneer ons fokus op hoe die Heilige Gees ons nuutmaak en ons verander sodat ons woorde en dade wys in Wie ons glo, gebeur in die hartjie van die winter. ’n Mens kan gewoonlik aan die opkoms by die bidure sien hoe mense liewer tuisbly en hulself verskans teen die koue en die donkerte.
Ek het al dikwels gewonder hoeveel anders Paasfees en Pinkster sou wees as ons dit in September kon vier. Sal gelowiges in hulle geloof ook meer energie vir herlewing hê as die hele wêreld om hulle bruis met nuwe lewe?
Miskien verstaan ons hierdie “nuwe lewe” ’n bietjie verkeerd. Miskien is ons te veel gefokus op die uiterlike en dit wat ’n mens met jou sintuie waarneem.
In die lente sien, hoor, proe, ruik en voel ons die herlewing in die natuur. In die winter dink ons alles kom tot stilstand of gaan dood, omdat ons sintuie dit só waarneem. En dan, amper outomaties, glo ons dat as ons deur ’n krisis gaan of in ’n groef is dat daar “te min lewe” is.
Dit maak ons wat Geel en Rooi is gefrustreerd en kwaad en ons wil met mag en mening beheer oorneem. Dié van ons wat meer Groen en Blou is, word moedeloos en angstig en gooi te vinnig handdoek in of word verbitterd.
As gelowiges van alle skakerings voel ons selfs skuldig omdat ons “net” oorleef en nie ook groei en floreer nie. Ons begin twyfel aan onsself omdat ons so gebrekkig herleef. Maar dis hoe die lewe werk.
Seisoene kom en gaan. In die winter plaas plante hulle energie in meer onsigbare groei, soos hulle wortelstelsels onder die grond. As die lente en die somer kom, kan hulle nuwe blare, bloeisels en vrugte lewer, juis danksy die groeiwerk én die ruswerk van die herfs en winter.
As jy in ’n winterseisoen is, moenie jouself kasty omdat jy dink oorlewing is minder belangrik as herlewing nie. Jy is besig met belangrike rus, selfondersoek en ’n hernieude soeke na God se teenwoordigheid en Sy wil vir jou lewe.
Dit sal jou herlewing wat ook weer sál kom, soveel mooier en kragtig maak.






