Hoekom is dankbaarheid so deksels moeilik?

Dankbaarheid is die verfkwas wat helder kleure op die skildersdoek van ons lewe verf. – Onbekend

’n Geesvervulde mens is ’n dankbare mens en dis ’n refrein wat in die Nuwe Testament herhaal word: Mense wat in Jesus glo is in alle omstandighede dankbaar. Trouens, dis nie net ’n beskrywing nie, dis ’n opdrag.

Maar soms tref dit my diep hoe kleurloos en vaalgrys party mense se lewens is. Hoekom is dit so moeilik om dankbaar te wees? En hoekom kry ons dit nie altyd reg nie?

Dit kan wees dat jy jou temperament meer in ag moet neem. Hier is ’n paar idees waaraan ek gedink het, maar brei hulle asseblief self verder uit.

Doendinge vir Gewilde Geel mense sodat hulle dankie-lysies langer word

  • Geniet jou natuurlike optimisme en borrelende geaardheid en vergroot jou begrip vir mense wat anders as jy is. Gee vir hulle ruimte en respek sonder dat hulle jou dag bederf. ’n Groep verskillende mense wat positief saamwoon en saamwerk is soveel rede tot dankbaarheid!
  • Kyk ’n bietjie dieper na jou lewe. Jy mag daarvan hou om die middelpunt van aandag te wees en jy mag dit geniet om die nuutste en beste besittings te bekom, maar moenie jou tevredenheid alleenlik hiervolgens meet nie. Vind dinge om op jou dankbaarheidslysie te skryf wat gegrond is in die sorg van die Here en die feit dat jy die appel van Sy oog is.
  • Bestuur jou wisselvallige emosies, leer meer oor emosionele intelligensie en hoe om gesonde grense te stel. ِDit sal jou help om nie so vinnig vanuit woede of ’n ongegronde gevoel van verwerping op negatiewe mense en omstandighede te reageer nie.
  • Doen moeite om meer georganiseerd te wees al vind jy dit erg vervelig. Stelsels, sisteme en lysies maak jou stres minder en sorg dat jy meer tyd het vir die plesierige en lekker dinge waaraan jy só behoefte het. Dit sorg vir wavragte dankies op jou lys.

Doendinge vir Rasende Rooi mense sodat hulle dankie-lysies langer word

  • Waardeer jou natuurlike optimisme en jou innerlike vertroue dat ’n mens altyd ’n plan kan maak. Vergroot jou begrip vir mense wat anders is en gee vir hulle ruimte en respek sodat hulle jou leiding vrywillig sal volg. Suksesvolle projekte en ’n gelukkige span is soveel rede tot dankbaarheid!
  • Ondersoek jou onderliggende woede wat jou vrede en vreugde steel. Jy dink dalk jy het nie ’n probleem hiermee nie, want jy skree en skel nie, maar onthou, dis jou “default setting” waarmee jy op stres en mense wat (in jou opinie) nie saamwerk nie reageer. Waar woede is, kan nie dankbaarheid wees nie.
  • Leer gesonde maniere om konflik op te los en hoe om ’n dienende leier te wees. Jou verminderde frustrasies sal jou meer redes gee om dankie te sê vir jou lewe.
  • Dwing jouself om minder te werk en jou pligtelys doelbewus korter te maak. Oefen om saam met jou geliefdes te ontspan en soms regtig niks te doen nie omdat dit lekker is. Hou terselfdertyd op om ander mense te probeer dwing om soos jy te wees. Dit maak jou vry – en dankbaar.

Doendinge vir Geruste Groen mense sodat hulle dankie-lysies langer word

  • Aanvaar jou ingebore pessimisme en sien dit as ’n barometer waarmee jy ander mense se negatiewe gemoedstoestand kan meet. Gebruik dan jou gawes van diplomasie en humor om uit te reik na dié mense en die atmosfeer te verlig. ’n Harmonieuse dag is soveel rede tot dankbaarheid!
  • Ondersoek jou natuurlike gereserveerdheid en voorkeur om nie betrokke te raak nie. Dra jou vermyding van konflik by tot meer vrede of is dit ’n verskuilde vorm van vrees? Waar vrees is, is daar min dankbaarheid.
  • Dwing jouself om by minstens een (kleinerige) groep in te skakel en gereeld met een of twee naby-mense te kuier. Jy hoef nie luidrugtige groot okkasies by te woon nie. Sorg net dat jy gereeld in konneksie met ’n paar spesiale mense is, sodat jou oksitosienvlakke verhoog en jy geliefd voel. Dit maak ’n mens dankbaar.
  • Kontroleer jou leefstyl en maak aanpassings waar nodig. Leer hoe om gesonde grense te stel sodat jy genoeg alleentyd het en maak seker jy lys die vreugdes van ’n introverte lewe. Moenie inkoop in die mite dat net ekstroverte mense rede tot dankbaarheid het nie.

Doendinge vir Besliste Blou mense sodat hulle dankie-lysies langer word

  • Waardeer jou fyn oog wat alles raaksien wat nie perfek is nie en gebruik dit om oplossings te bedink wat ander mense van hulp sal wees. Leer terselfdertyd hoe om te onderskei wanneer om stil te bly en wanneer om jou raad of opbouende kritiek te opper. Projekte wat reg afloop tot almal se voordeel is soveel rede tot dankbaarheid!
  • Ondersoek jou natuurlike geneigdheid tot ontevredenheid en bitterheid. Is daar iets of iemand in jou verlede wat jy moet vergewe en laat gaan? Dankbaarheid loop by die agterdeur uit as jy tasse vol emosionele bagasie by die voordeur indra.
  • Dwing jouself om minder ernstig te wees en plesierige dinge in ’n sosiale groep te doen. Lag en gesels sal jou gemoed verlig, al dink jy anders as enigiemand daar. Luister en wees nuuskierig oor mense in plaas daarvan om krities te wees. Laat hulle jou verras en bekendstel aan nuwe dinge en onderwerpe wat jou redes tot dankbaarheid sal gee.
  • Omring jou met musiek, boeke, kunswerke en enigiets waaraan jou siel behoefte het. Hou aan soek na ’n kreatiewe uitlaatklep waartydens jy die malende gedagtes in jou kop tot rus kan bring. Hou dinge wat jou ontstel doelbewus uit jou lewensruimte. Jy sal nie onkundig of “agter” raak nie, maar wel meer vrede en rus ervaar sodat jy kan fokus op alles waarvoor jy wil dankie sê.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Om met eer te wen
Inspiration

Om met eer te wen

Die Keniaanse atleet Abel Mutai was los voor in die resies. Enkele meters voor die wenstreep, het hy gestop omdat hy gedink het dat dit

Read More »
Die vyf W’s
Wisdom

Die vyf W’s

Joernaliste en skrywer word geleer dat ‘n mens in jou openingsparagrawe so gou moontlik die vyf W’s moet antwoord – anders verloor jy jou leser:

Read More »