Hoe om te weet ’n nuwe seisoen is op pad
“Somer is net ’n gerug uit die noorde, hier by ons is dit winter tot diep in November.” So sê een van my Kaapse vriende toe ek op ’n heerlike Oktoberdag vra of dit by hulle ook so lekker warm is.
Omdat ek Geel is, wou ek weet of hulle soos ek besig was om kuiers te beplan. Ek wou eintlik weet of ek hulle in my partytjieplanne kon inwerk. Ietwat afgehaal, het ek besef dat hierdie antwoord ’n duidelike “nee” is
- Louis Leipoldt het geskryf dat Oktober die mooiste, mooiste maand is op grond van die mooi dinge in die natuur wat hy gesien het. Nou wonder ek: Hoe weet ’n mens ’n nuwe seisoen is op pad as ons almal verskillende belewenisse het en Oktober nie vir almal ewe mooi lyk nie?
Iemand wat naby aan die ewenaar woon, kan net waarneem dat dit bietjie meer of bietjie minder reën. Daar is nie eintlik veel verskil in temperatuur soos die weke verby tik nie. Trouens, ’n mens kan selfs sê hoe nader jy aan die ewenaar woon, hoe minder seisoene beleef jy.
Mense in die Noordelike Halfrond sê so maklik hulle weet dis die hartjie van die winter, want allerhande Kersfees-dinge kom uit die kas. Maar wat nou van die miljoene mense in Australië, Indië, Suid-Afrika, Namibië, Brasilië en nog baie ander lande waar Kersvader eerder ’n swembroek dra?
’n Besliste Blou kollega het my vrae vreemd gevind. ’n Mens teken mos – volgens haar – die datums van die dag-en-nag-eweninge en sonstilstande in jou dagbeplanner aan. Dan weet jy mos presies wanneer om byvoorbeeld jou winterjasse te laat droogskoonmaak of ekstra chloor vir die swembad aan te skaf.
As jy – soos ek – nou jou oë rol en dalk wonder wat sy bedoel, gaan tik hierdie Engelse woorde op Google in: “equinox and seasons” en “solstice and seasons”. En onthou tog om nie deurmekaar te raak met die Noordelike en Suidelike halfronde nie …
Terug na my vrae en mense se reaksies: ’n Geruste Groen tiener sê vir my sy weet die winter loop ten einde as sy begin warm kry onder haar vier komberse agter haar geslote kamerdeur. Dit val gewoonlik saam met haar Geel vriende wat haar deur oopstoot en haar kom haal vir oefensessies in die gimnasium waar hulle ’n paar maande nie was nie.
En ’n Rasende Rooi werkgewer sê hy weet die somer is om die draai as die aansoeke vir vakansieverlof opeens oor sy rekenaarskerm begin flits. Hy sê hy voel dit ook in sy eie stresvlakke wat styg omdat hy meer wil draf en wat nou van al sy werk?
Dis dan geen wonder nie dat ons as mense nog meer onseker voel as dit by die meer geestelike seisoene in ons lewens kom. In die Predikerboek in die Bybel staan daar duidelik dat daar ’n seisoen vir alles onder die son is.
Sommige kan ’n mens van vlees en bloed nie sien aankom nie. Dis die krisisse, die dood, siektes en ander ellendige gebeurtenisse wat jou laat steier en in ’n winterseisoen dompel. Soms kom daar ook opeens lentetye waar ’n wonderwerkbaba of ’n onverwagse nuwe liefde jou wêreld vol bloeisels maak.
Maar het jy geweet, as die Here jou na ’n hoër vlak wil bevorder, is daar tekens wat jou gees kan herken? Jy kan weet ’n nuwe seisoen is op hande as jy een of meer van die volgende ervaar:
- Jy voel ’n onrus en ongemak in jou waarvoor jy geen verklaring of oplossing vind nie. Die gevoel wil jou net nie los nie, maak nie saak wat jy doen nie.
- Jy begin ontevrede oor jou verhouding met die Here voel. Jy is honger vir méér van God.
- Jou prioriteite maak opeens nie meer sin nie. Belangrike sake voel minder belangrik en dis of nuwe kwessies by nommer 1 op jou lysie wil kom staan.
- Daar kom nuwe verantwoordelikhede oor jou pad waarvoor jy nie gevra het nie. Jy voel geïntimideer, maar jy weet ook dat God meer van jou verwag soos wat jy groei.
- Bekende deure wat oop was, klap toe en nuwe geleenthede kom uit die bloute oor jou pad. Hulle is ietwat vreemd, maar iets sê vir jou jy moet dalk tog maar dieper kyk.
- Jy bevind jou in konflik met mense met wie jy nog altyd goed oor die weg gekom het. Of daar kom nuwe mense of situasies oor jou pad wat vyandig of ondermynend is.
- Sommige van jou vriendskappe en familiebande verflou of raak heeltemal weg. Sommige van hierdie verliese breek jou hart, maar ander laat jou skoon verlig voel.
- Jou finansies word beter of dalk juis slegter. Jy voel soos Elia wat niks gehad het nie. God het hom deur hulpbronne wat meer of minder geword het gewys waar hy moet bly en werk, en wanneer hy moes aanbeweeg.
Watse seisoen jy jou ook al in bevind, die Gees sal jou lei, voorberei en gereedmaak. Jy ken nog nie al die details nie, maar God se plan vir jou lewe is altyd besig om te ontvou. Daar is altyd beweging en dis altyd vorentoe, boontoe, na wat die beste vir jou is.
“Every season is one of becoming,
but not always one of blooming.
Be gracious with your ever-evolving self”
(B. Oakman).