Wie stres nou in Desember? Dis vakansietyd! Kersfees. Familietyd. Kuiertyd. Elke advertensie vertel ons dan “it’s the most wonderful time of the year”.
Nie vir almal nie. Daar is mense wat langer ure werk in Desember, van die ambulans manne en vroue tot by die polisie, brandweer, dokters en ander nooddienspersoneel. Die mense wat weet Desember beteken meer partytjies, meer dronkbestuur, meer ongelukke, meer insidente. Meer spanning. Meer tyd weg van hul gesinne.
Dan is daar die mense wat by hotelle, vakansieoorde en in die winkelsentrums se langer oopbly ure werk. Wat ekstra ure moet glimlag, diens lewer en seker maak die gaste is in hul noppies. Meer spanning. Meer tyd weg van hul gesinne.
Praat nie eens van die spanning wat introverte beleef wat skielik met ‘n wavrag familie in hul huise sit nie. Of die jong bruide wat dalk vir die eerste maal ‘n kersmaal vir skoonma moet kook nie…
En dan die eensames. Die wie se vriende en familie almal ver is of nie meer daar is nie. Vir hulle is Desember ‘n pynvolle beproewing.
Watse raad het ek vir al die mense wat meer opsien as uitsien na al die feestelikheid?
Ten eerste, jy is nie alleen nie. God is by jou, soos wat Hy keer op keer in sy Woord belowe. Hy het jou tot hier gedra en sal jou ook deur hierdie Desember dra.
Tweedens, vir almal wat werk deur Desember. Dankie, byt vas, doen jou bes. Maak seker jy haal diep asem en onthou om te rus ook.
Derdens, vir die introverte, ontspan. Hierdie tyd sal ook verbygaan. Jou familie en vriende ken jou en sal verstaan as jy vir rukkies ontsnap met ‘n boek en rustigheid soek.
Vierdens vir die gespanne kokke, Ma’s en Ouma’s wat vir almal moet regstaan en kook, delegeer Susters, delegeer!
En dan die belangrikste van alles. Onthou om jou mense en die tyd saam met hulle te waardeer. Wees lief vir mekaar, want sonder liefde sou daar nooit eers ‘n Kersfees gewees het nie.







