Ek moes onlangs ‘n aanbieding vir ‘n korporatiewe groep voorberei. In plaas van die gebruiklike versoek vir ‘n CV, stuur hulle vir my ‘n paar vrae om te beantwoord: Onder andere, vra hulle of en waarom ek glo dat swaarkry en uitdagings ‘n geskenk is, wat my grootste uitdagings op die oomblik is en hoe ek dit te bowe kom.
Ek het lanklaas ‘n onderhoud met myself gevoer en ek moet erken dat dié vrae my behoorlik aan die dink gesit het. Ek het ook besef dat dit ‘n goeie ritueel is om gereeld deel van my oggend-koffiesessies met myself deur te werk.
Ek glo absoluut dat uitdagings ‘n geskenk is – iets waarvoor ek nie vra nie maar wat soos enige sessie in die gym, my spiere, gedagtes en uithouvermoë bou.
My uitdagings, het ek opnuut besef, is meestal mens-gerig. Al het ek deur die jare kennis van myself en ander se temperamente en verskille bymekaargemaak, moet ek daagliks werk aan geduld met myself en ander. Ek moet onthou dat ek net soveel in ‘n dag kan inpas, en wanneer ander nie my visie en uitkyk op die toekoms deel nie, moet ek myself daaraan herinner dat ons verskillende brille dra.
Maar die vraag wat my die diepste laat dink het, is hoe ek struikelblokke oorkom. ‘n Hekkies-atleet weet dat hy ‘n kort stukkie gelykpad hardloop maar dat die hekkies deel uitmaak van sy baan. Hy moet met geoefende spiere bo-oor elke hekkie spring om die wedloop te voltooi.
Ek het geleer dat ek moet soepel wees eerder as hard, want ‘n porseleinkoppie breek wanneer hy op ‘n vloer val, maar ‘n rubberbal bons terug. Al moet ek altyd gereed wees met goeie beplanning, moet ek ook bereid wees om by onsekerheid en verandering aan te pas.
En bo alles moet ek onthou dat onvolmaaktheid soms goed genoeg is – want nes sewebiljoen ander, is ek net ‘n mens.







