Oorwinning en vrede lê hierin… om lief tehê asof jy nog nooit seergekry het nie!
Ek is op die vliegtuig op pad Kaapstad toe. Langs my sit ‘n vrou. Langs haar sit haar man, ‘n man met ‘n groot dors. Hy bestel opslag twee biere. Hy raak kort-kort uitspattig luidrugtig en probeer geselsies aanknoop. Geïrriteerd stamp sy hom elke nou en dan in die ribbes waarna hy spelerig haar hand vat en soen en vir haar sê hoe lief hy haar het al is sy kwaai met hom. Sy kyk op en glimlag vir hom.
Hy vertel my dat hulle tweetjies op pad is na ‘n reünie en dat hy nie kan wag om haar te neem na die wynplaas in Stellies waar hy haar 25 jaar gelede gevra het om te trou nie. En ek dink, ai dis mooi!
In die bus op pad terminaal toe sit ‘n vrou met rooi gehuilde oë langs my. Sy is op haar foon en praat gedemp in haar hand. Sy sê hartverskeurend en intens aan die persoon aan die anderkant: “Liefde is sommer net ‘n klomp… Liefde maak ‘n mens net seer. Ek is klaar met die liefde, klaar sê ek vir jou!”.
Haar woorde ego in my ore en so ook in my hart. Ek dink ernstig oor haar uitlating; “die liefde maak net seer”. Maar dit is mos niewaar nie! Verwerping maak seer, eensaamheid maak seer, moedswilligheid maak seer, vernedering maak seer, om iemand te verloor maak seer. Raak ons nie net dalk deurmekaar en verwar ons die bogenoemde en noem dit liefde nie?
In werklikheid is liefde die enigste ding in die wêreld wat alle pyn genees al neem dit soms ‘n stamp in die ribbes en ‘n soen op die hand. Dit is mos die liefde wat ons heelmaak sodat ons weer mens kan voel. Is liefde, ware liefde, nie juis die enigste ding in die wêreld wat nie seermaak nie? Wat dink jy?
“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor die onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”
1 Kor. 13: 4-7







