Gooi jy die pyn toe

Dis nooit lekker om iemand te sien ly nie. Nie fisieke nie maar ook nie emosionele pyn nie. Sommige van ons – veral die mensgerigtes – kry saam met ander fisies swaar. Dis asof jy hulle verlies in jou eie maag voel. Dis waar die woord simpatie vandaan kom – dit beteken letterlik om saam met iemand te ly.

Een ding wat ek oor die jare geleer het, is dat ‘n mens nooit iemand se pyn met troos moet probeer toegooi nie. Vra maar vir enigiemand wat al ‘n geliefde aan die dood moes afstaan – daar is niks wat jou so omkrap as iemand wat met soetsappige trooswoorde jou wil laat beter voel nie.

Wanneer jy rou en stukkend is van die seer, wil jy nie hoor dat “God jou hierdeur sal dra” en dat dit een van die dae sal beter gaan nie. Sulke woorde laat jou twyfel of hierdie persoon opreg is en dit bevestig net vir jou dat hy nie ‘n benul het van die diepte van jou pyn nie. Wat veel meer beteken, is wanneer iemand opreg vir jou sê dat hy nie woorde het nie en dat hy nie weet hoe dit voel nie. (Wanneer hy vir jou een van sy eie hartseer stories van swaarkry vertel, maak hy dit beslis ook net erger vir jou!)

Ek hou nie van negatiewe mense nie en ek beskou myself as ‘n optimis. Maar ek weet daar is tye wanneer ‘n mens moet waak teen dit wat die wetenskaplikes hiper-positiwiteit noem. Dis nie die tyd om vir die ander persoon te laat weet dat alles sal regkom nie.

Om saam met die ander persoon in sy pyn te sit en jou eie weerloosheid te wys, dit help. Want opregte weerloosheid is waar ‘n mens met mense in julle gedeelde swakheid en mens-wees kontak maak. 

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs