Vandag het ek opnuut iets van genade verstaan. Ek lees in ‘n ou dagboek iets wat Stephan Joubert lank terug geskryf het: “Hoe meer ek iets van God se genade begin snap, hoe meer verander dit my ganse lewe. Genade maak my nuut. Dit hóú my nuut.”
 
En ek besef: dis waarna ons daagliks moet streef – hoe om nuut te blý. Hoe kry ’n mens reg om die inspirasie vars te hou? Waarom staan jy soms met ‘n hup in jou stap op en ander dae wonder jy hoe jy die dag gaan oorlééf? Is daar nie dalk ‘n resep, iets wat jy vinnig kan sluk of doen om gister se goed-voel met ‘n zap! terug te bring nie?
 
En iets sê vir my – dis dít! Jy’t net alweer vergeet om op die regte plek te gaan soek. Jy’s nie veronderstel om die doepa in jou eie binnegoed te kry nie. Jou antwoord lê in stil word voor die Here. 
 
Jou kop oorvol gedagtes is jou eerste struikelblok. As jy eers begin dink aan jou lysie doendinge vir die dag, is jou vrede daarmee heen. Jy vergeet skoon om diep asem te haal. 
 
Ek het vir my ‘n stil plekkie in die sitkamer gekry. ’n Plek op die bank waar die venster genoeg lig maak om te kan lees. Met my beker koffie en beskuit, kry ek my sit vroeg-oggend. Ek haal so drie keer diep asem en dan sê ek More Here, hoe gaan dit met Jou? Dankie dat Jy saam met my hier sit.
 
Dan trek ek los en vertel Hom van gister se bekommernisse en blapse. Ek lees die Bybel en my dagstukkie, en haal asem. En dan wag ek vir sy antwoord. En dis hier waar Hy toe vir my sê – dís hoe jy nuut bly, my kind. Jy’t alweer vergeet…

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Kyk na jouself
Passion

Kyk na jouself

Mense sê soms vir my, my lewe is te besig. Ek is omtrent elke dag op ‘n ander dorp in die land. Ek geniet dit.

Read More »