Het jy al ooit besluit om iets gaafs vir ‘n wildvreemde mens te doen – en dit vir NIEMAND te vertel nie? Vir niemand nie, nie eens vir jou anderhelfte of jou heel beste vriendin nie, nooit ooit nie.

In ‘n kuierpratery oor ‘n dierbare tante wat onlangs dood is, kom iemand uit met die allermooiste verhaal. Van hoe Tant Sophie gereeld geheime weldade gedoen het waarvan niemand geweet het nie. Net die boemelaar of die stukkende mens wat sy met haar bord kos of die geldjie op die regte tyd geseën het. En nou, na haar dood, kom die stories so een-een uit. Van mense wie se lewens deur haar liefde aangeraak en gereeld verander is.

Almal het geweet dat sy ‘n selflose, spesiale mens was – een van die wat maklik misbruik kon word omdat almal op haar knoppie kon druk. ‘n Mens sou kon sê dat sy ‘n aardse engel was. Saggeaard en lief, met ‘n stil soort wysheid.

Maar die wat haar geken het, het geweet dat daar een ding was wat haar kon ontstel – as jy oor haar of haar goeie dade gepraat het. Dit het haar nie verleë gemaak nie, maar kwaad. Want, het sy geglo, as jou regterhand uitgevind het wat jou linkerhand gedoen het, tel dit nie meer nie. Dan word die seën uitgekanselleer, het sy gesê as mense haar ‘n bietjie geterg het oor haar geheimsinnigheid.

Sy het eenkeer, toe die dominee dit naby aan haar gevoelentheid gewaag het, laat val waarom sy so daarvan hou om nie net te gee nie, maar om dit in die geheim te doen: “Dominee weet,” het hy by haar roudiens verklap, “dis asof die lekkerte van gee verdubbel as niemand daarvan weet nie…”

Om te gee, is lekker en ja, dis eintlik maklik – baie makliker as om te vra of te ontvang. Maar dit lyk my, as jy die volle vreugde van gee wil beleef, moet jy kan gee soos Kersvader. Sonder om enigiets terug te ontvang, ook nie erkenning nie.

Is dit nie ‘n lekker uitdaging om aan jouself te stel nie – jy sal nie eens ver hoef te gaan soek nie. Wees iemand se Secret Santa; doen iets wat jy weet ‘n lewe gaan makliker maak. En hou dit geheim tot jy jou kop die dag neerlê.,..

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs