Een van die handigste geskenke wat ek vroeg in my lewe gekry het, is ‘n prutpot. Ai man, daar is darem niks lekkerder as om saans moegerig by die huis te kom en met die intrapslag met die heerlike bredie-geur verwelkom te word nie! Dis nou te sê as ek die slag onthou het om vroegoggend al die bestanddele in die pot te kry…
‘n Mens se brein is ook so ‘n prutpot, sê die mense wat weet – een wat ons hopeloos te min inspan om ons lewens makliker te maak. Net soos ‘n prutpot, sê hulle, is jou brein dag en nag aan die gang. Wanneer jy rustig slaap, of selfs wanneer jy bedags met ander dinge besig is, kan hy probleme vir jou oplos en met kreatiewe planne vorendag kom. As jy hom net wil toelaat.
Maar daar is ‘n voorvereiste, sê die neurowetenskaplikes: nes met die prutpot, moet jy die bestanddele voorberei en rustig in die prutpot pak.
Hoe doen ‘n mens dit? Deur in die eerste plek rustig te word en in jou brein se prut-funksie te glo. Die tweede stap is om jou lysie of jou probleemstelling te formuleer en die bestanddele deeglik voor te berei. Doen jou navorsing en voer jou brein met die toepaslike inligting, die strukture wat jy klaar uitgewerk het, die opsies en keuses wat beskikbaar is.
Wanneer jy jou brein se verwerkingsvermoë vertrou en die probleem “oorgee”, is jy besig om die spreekwoordelike prutpot op ‘n veilige lae stelling aan te skakel. Vervolgens gaan jy aan met jou dag, en dink nie weer daaraan nie. Of as dit tyd is om oë toe te maak, raak jy rustig aan die slaap.
Mense onderskat die brein se vermoë om in die agtergrond, met groot kreatiwiteit, oplossings en nuwe paaie te ontdek. Dis nie ‘n verskoning om dinge uit te stel nie, maar ‘n eenvoudige, praktiese stuk gereedskap wat tot ons almal se beskikking is. Maar nes met jou prutpot, moet jy hom van die boonste rak afhaal, goed afstof, en aanskakel. En onthou om die rou brediebestanddele te laai.







