Die vraag is nie of ons sal misluk of nie, maar of ons sal misluk om op te staan wanneer ons misluk.
Foute en mislukkings is mos nou nie iets waaroor ons graag praat nie, tog is dit ook nie iets wat jy kan ontduik nie. Almal maak foute. Om die waarheid te sê, mislukking en sukses is twee kante van dieselfde muntstuk. Geen mens kan sonder mislukkings sukses behaal nie.
Dit laat my dink aan ‘n vriendin van my wat op ‘n kol in ‘n totale toestand was omdat sy ‘n spelfout op ‘n nuusbrief gemaak het wat landswyd uitgestuur is. Sy vertel sy het dadelik haar lot by ‘n sielkundige vriend van haar gaan bekla. Baie kwaad vir haarself, want sy is perfeksionisties in haar werk. Sy het soos ‘n mislukking gevoel. Die vriend vra haar toe: “Het jy Afrikaans in Graad 5 geslaag?”
“Natuurlik” was haar antwoord. “Mooi, nou wat is die verskil tussen ‘ek is’ en ‘ek het’?” was sy volgende vraag. Daar het ‘n lig vir haar opgegaan. Sy het ‘n fout gemaak. Sy is nie die fout nie.
Foute sal insluip. Verkeerde besluite word gemaak en soms werk dinge nie uit soos dit moet nie. Dit gebeur. Dis die lewe. Wat belangrik is, is hoe jy reageer daarop. Gaan jy in jou hoekie sit en huil en nooit weer wil probeer nie, of gaan jy daaruit leer, jou fout erken, opstaan en aangaan?
As jy nog nooit gefaal het nie, hoe sal jy weet wat dit is om suksesvol te wees? As jy nog nooit seergekry het nie, hoe kan jy empatie hê met iemand anders wat deur pyn gaan?
Sien elke val en opstaan as ‘n leerproses. Gaan dink bietjie mooi, wanneer het jy die meeste verander, gegroei of die grootste besluite geneem? Kanse is goed dat dit was nadat jy een of ander vorm van krisis of trauma deurleef het.
Iemand het eenkeer gesê dis niks om te val nie, maar as jy val draai dadelik om, sodat jy die lig kan sien. Moet net nie met jou gesig in die modder bly lê nie.
Moenie soos ‘n strandbal wees wat lig en vrolik deur die lewe bons, maar met die geringste doring of klip stukkend gesteek word en dan leweloos bly lê nie. Wees soos ‘n muurbalballetjie, maak nie saak hoe hard jy dit teen die muur moker nie, dit bons altyd weer met groter spoed terug.
Gebruik jou terugslae tot jou voordeel. Leer daaruit en gaan aan. Jy weet mos wie jy is in Christus en dat God groot planne vir jou lewe het!
“ Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie. ”
Deut. 31:6







