Dis een ding om gehoor te word, maar ‘n ander ding om ervaar te word!
Dit is langnaweek! Ek het kuiertyd. Na vele jare se leë kuierbeloftes is ek uiteindelik op pad na goeie vriende. Daar gekom is twee van die vier gesinslede tuis, mamma en klein Divan van sewe jaar. Pappa het gaan bestanddele koop om sy onuitblusbare lus vir Moroccan hoender te bevredig. Ousus kuier by haar siek oupa en ouma.
Klein Divan beweeg soos ʼn skaduwee in die vertrek, sy ogies volg my soos die van ʼn akkedissie wat in die son op ʼn warm klip lê en bak. Mamma stuur Divan om iets in die kamer te gaan haal. Sy fluister vir my dat hy geweier het om saam sy pa dorp toe te gaan, want hy sê hy weet as ʼn pastoor of dominee by jou kom kuier verander jou huis in heilige grond en as hulle vertrek dan word jou huis weer soos dit was. Hy wil vandag sien hoe die huis in heilig verander.
Ek is uit die veld geslaan en half giggelend senuweeagtig, want op ʼn manier moet ek vir hierdie kind met ʼn heilige verwagting, heiligheid laat gebeur.
Die realiteit dat hierdie kleine rakkers ons fyn dophou tref my opnuut. Kinders het . definitiewe verwagting van ons as volwassenes. Ek dink onwillekeurig aan die ernstige en waarskuwende woorde van Jesus in Matteus 18. Ek besef ek moet “heilig” praat en sommer ook “heilig” lag. Ek kuier toe “heilig” heerlik en “heilig” verantwoordelik waarna ek “heilige” gebed doen. Ek ry huis toe met vreemde glimlag en hart vol nadenke.
Vier dae later vra ek mamma uit oor boetie se heilige belewenis. Hy se: “Mamma, ek het nervous gevoel. Netnou doen ons iets verkeerd. Toe sy loop toe gaan die heiligheid uit en toe voel ek sommer relaxed”. Ek kon nie besluit of dit goed of sleg was nie. En het onwillekeurig gedink aan hoeveel keer daar uit die mond van die suigeling soveel diepsinnige waarhede verklap word?
“ Daarom is elkeen wat so nederig soos hierdie kindjie word die belangrikste in God se koninkryk. En elkeen wat ‘n kindjie soos hierdie een ter wille van My verwelkom, verwelkom My. Maar elkeen wat een van hierdie kleinstes wat in My glo, tot ‘n val bring – vir hom sal dit beter wees om met ‘n meulsteen om sy nek in die see te verdrink. ”
Matt. 18:2 - 6