Al die gespuit en handewassery het die term higiëne nuwe betekenis gegee in ons lewens. Huise en winkels ruik al soos hospitale. Ons hande is al so gaar gewas dat die handeroom teen dubbelspoed opraak, net om te keer dat ons vervel van al die chemikalieë.
In gesprekke met jong en middeljarige vriende, hoor ek gereeld, veral by die fikses, dat hulle nie te bekommerd is oor die virus nie. Want, hulle glo dat hulle higiëne en immuniteit hoog is en dat Covid 19 hulle nie sal onderkry nie.
Dit het my aan die dink gesit oor die toestand van ons emosionele higiëne. Liggaam en gees stap saam die pad en in baie gevalle is vrees en onsekerheid ‘n groter bedreiging vir ons gesondheid.
Dis nie meer kennis en inligting wat ons deur hierdie tye gaan dra nie – inteendeel, ek dink ons word so oorspoel met feite en statistiek, dat ons koppe draai. Ons weet ook dat aanhoudende bekommernis tot angs lei en sleg is vir ons gesondheid.
Ek kom onlangs af op hierdie aanhaling van die denker, filosoof en sielkundige, Carl Jung: “Kyk buitentoe en jy droom; kyk binnetoe en word wakker.”
Dalk moet ons wakker word en ophou om ons emosionele fiksheid af te skeep. Hoeveel aandag gee ons aan ons weerbaarheid en ons geestelike immuniteit? Hoe kop-fiks is ek? Toets ek elke gedagte wat deur my kop flits, aan die vraag: “Hoe help hierdie gedagte my om sterker te word en vorentoe te beweeg?” Het ek ‘n hekwag wat die trol-gedagtes van vrees en bekommernis uithou?
Miskien het dit tyd geword om met ‘n emosionele higiëne-roetine te begin. Hoe gereeld flos ek my gedagtes? Maak ek soggens en saans, soos met tande borsel, tyd vir stil word? Fokus ek op dit wat ek verloor het of maak ek tyd vir dankbaarheid vir dit wat ek nog het?
Dalk kan ons van elke handewas en elke taai spuit by ‘n winkel-ingang, ‘n geleentheid maak om wakker te word, ons gedagtes skoon te spuit en bewus te lewe.







