Ek sien in die week die Graad 8s van Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria word “Droompies” genoem, want “hulle droom nog net daarvan om Affies te word.” Is jy ook ‘n “droompie”? Droom jy groot oor al die dinge wat jy nog wil doen? Bou jy lugkastele en dagdroom oor daardie eie besigheid wat jy gaan begin, die reis om die wêreld wat jy gaan aanpak, die gewig wat jy gaan verloor of die bevordering wat jy by die werk gaan kry?
Wat doen jy om daardie drome werklikheid te maak? Jy sien, my liewe Droompie, ‘n droom bly ‘n droom totdat jy self iets daaromtrent begin doen. Om na al die werklikheidsreekse oor gewigsverlies op TV te kyk, terwyl jy ‘n pak skyfies eet, gaan jou nie een gram ligter maak nie. Sou jy egter die TV afsit, die skyfies neersit en ‘n slag op daardie oefenfiets klim en bietjie trap, wel ja, dan is jy op die regte spoor. (Ek weet jy het ‘n oefenfiets, bykans almal het een êrens in die huis waar die handvatsels as kapstok vir baadjies en hemde dien!)
Dit het tyd geword dat jy ophou droom en begin doen. Om drome werklikheid te maak moet jy die eerste stap gee. Doen navorsing, kry jou feite agtermekaar en stel jou doelwitte op. Wees prakties met die tydskedules en begin werk, spaar en leer om jou drome te realiseer.
Daar is ook verskeie boeke en artikels op die internet beskikbaar. Gaan doen die nodige navorsing, maar belangrikste van alles, begin net. Begin vandag te spaar, te oefen en te werk om jou drome lewensvatbaar te maak.
Die lewe vlieg verby. Die res van jou lewe hoef egter nie op dieselfde trant aan te gaan nie. As jy wil hê daar moet iets nuuts en anders in jou lewe gebeur, moet jy sorg dat daar iets nuuts en anders uit jou uit kom. Hier is jou kans om standpunt in te neem vir ’n nuwe toekoms en ’n nuwe jy!







