Ek sit onlangs in ‘n beplanningsessie tussen ‘n klomp slimmes wat ‘n ghoeroe gehuur het om hulle te motiveer vir die moeilike pad vorentoe. Ek maak my reg vir raad wat ek al gehoor het, en planne wat in elk geval nie gaan uitwerk nie.
Daar is niks wat belangriker is vir ons gemoedsrus as vrede en geluk nie, hoor ek die ghoeroe sê. En ek moet keer dat my eie stemmetjie nie sy bek oopmaak en vir ou Slimme sê “Nou wat vertel jy ons nou!” nie.
Maar toe deel hy pen en papier uit en gee vir ons huiswerk, soos vir kinders. Hy skryf drie vrae op die bord neer en draai sy uurglas om.
Vraag een was nie te moeilik nie: DINK AAN EEN DING WAT JY GISTER GEDOEN HET, WAT JOU GELUKKIG GEMAAK HET. Dit hoef nie iets groots te wees nie, verduidelik hy, solank dit jou laat glimlag het.
Ek onthou van die dogtertjie in die tou by Spar, vir wie ek ‘n poppie-lekkertjie op my rekening laat oplui het. Sy het nie daarvoor gevra nie, net na die ding gekyk met verlangende oë. Haar ma het met ‘n glimlag ingestem. En ek het met ‘n glimlag uit die winkel uit geloop en tydelik vergeet van my besige dag.
Toe kom vraag twee: DINK AAN IETS WAT IEMAND ANDERS IN DIE LAASTE WEEK GEDOEN HET WAT JOU GELUKKIG GEMAAK HET. Dit was nie eens nodig om hieroor te dink nie. Die vriendin wat onthou het dat my spesialte tee op is en geweet het dat ek nie tyd het vir winkels toe gaan nie. Sy het met ‘n “hallo-en-koebaai” hier in- en uitgewaai. Eers toe sy weg is, sien ek die tee, ‘n pakkie gletenvrye koekies en ‘n vars “gesonde melk op die tafel. My gas het haar kop geskud vir die wonderwerk en die ketel gaan aansit.
Vraag drie het ons uitgeboul: SPAN NOU JOU SINTUIE IN EN DINK AAN EEN DING WAT JY DOEN OF HET, WAARVOOR JY OPREG DANKBAAR VOEL. Ons het effe ongemaklik rondgeskuif want ‘n gevoelery maak sakemanne en -vroue maklik ontuis voel. Tot dapper Willie sy hand opsteek en sê: “Soos julle almal weet, is ek feitlik doof sonder my gehoorapparaat. Die een het nou finaal opgepak maar die ander een werk nog. Ek is dankbaar dat ek net twee maande hoef te wag vir die mediese fonds om die ander een te vervang. Ek voel diep dankbaar dat ek darem nog kan hoor.”
Oh man…







