Dra ‘n leerbril vir ‘n dag

Ek het ʼn vriend – kom ons noem hom Jakobus – met ʼn heerlike verbeelding. Hy kan van iets verveligs ʼn speletjie maak. Ons is ou vriende wat vir mekaar kan “instaan” as metgeselle wanneer die geleentheid dit vereis. 

En kyk, om ʼn troue saam met Jakobus deur te maak, is reuse-pret. Veral van dié soort troues waar jy net òf die bruid òf die bruidegom ken – en niemand anders nie. En dan is dit boonop een van die tradisionele paarties met flou grappies en uitgerekte toesprake.

Een van Jakobus se speletjies is om die geleentheid in ʼn drama te omskep. Hy kies ʼn hoofkarakter – sommer een van die gaste – en laat sy verbeelding gaan. Hy gee vir die man ʼn ingewikkelde verlede en besluit wie van die gaste deel uitmaak van sy familie. En natuurlik moet ek saamspeel. Tot ons later ons eie storie met ʼn hele boel karakters uitgewerk het. 

Ons gee die hoofkarakters name en besluit waarom hulle doen wat hulle doen, wat hulle by elke tafel met die ander deel en hoe dit bydra tot die plot. En kort voor lank is die troue verby en ons is skoon jammer want dis gewoonlik wanneer die storie net lekker op dreef kom.

Maar so hoor ek onlangs by ʼn kuier van iemand wat Jakobus se manier van pret maak gebruik vir sy eie groei. Die man vertel hoe hy sommige dae besluit dat almal op die betrokke dag, gestuur word om hom iets te leer. Die padvark wat voor hom insny, is daar om hom geduld te leer. Die ou wat voor hom indruk in die kruidenierstou, is gestuur om hom liefde vir ongeskikte mense te leer; die munisipale beampte wat hom afjak oor hy met die verkeerde vorm in die lisensietou kom staan het, is sy professor vir verdraagsaamheid.

Op só ʼn “skooldag”, vertel hy, herhaal hy een sin oor en oor: “Wat leer ek vandag by jou?” En as hy die aand sy kop neerlê, kan hy sommer voel hoe hy gegroei het – in wysheid en geduld en medemenslikheid en bowenal, in selfkennis.

Maar gewoonlik kan hy die speletjie net so ʼn daglank uithou, sê hy …

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs