Praat ek nou die dag oor die radio oor prioriteite en ek sê onder andere dat mens nie moeilike take moet uitstel nie.
Kry ek later ‘n boodskap van ‘n vriendin. “Daai een is makliker gesê as gedoen. Ek onthou op universiteit in eksamentyd het ons selfs koffiebekers gewas, kamer skoongemaak en boekrakke reggepak, enige verskoning om nie te leer nie!”
Ek kan maar net my kop skud en lag, want ek weet sy doen dit na al die jare steeds. Wanneer sy iets moet doen waarvoor sy nie lus is nie of wat te moeilik vir haar lyk, is sy ‘n meester op die gebied om ander dinge te kry om te doen. So kan sy vreeslik besig wees en lyk sonder om dit te doen wat sy eintlik veronderstel is om te doen.
Ek weet sy is nie enig in haar soort nie. Dit is mos nou maar eenmaal net makliker om dit waarvoor jy nie lus is nie, net so bietjie op die langebaan te skuif. Vir mense met sterk skakerings van groen in hul persoonlikheidssamestellings, soos genoemde vriendin, is dit ‘n manier om dinge glad nie te doen nie. Hulle voel as hulle lank genoeg uitstel, sal die probleem dalk vanself verdwyn of êrens sal ‘n Rooi of Blou ongeduldig genoeg raak en die takie namens hulle afhandel.
Eintlik sal dit soveel makliker vir almal se gemoedere wees as hulle net eenvoudig inspring en dit klaarkry. Partykeer moet mens jouself net sover kry om te begin met ‘n ding, as jy eers aan die gang is, dan kom jy agter dit is regtig nie so erg nie.
Met die jare saam het ek al geleer, doen die moeilike take en dit waarvan jy nie so baie hou nie eerste. Dan is dit oor en verby. Jy kan ontspan en aangaan met dit waarvan jy eintlik hou. Sien daardie moeilike taak of projek wat jy moet aanpak as ‘n uitdaging en ‘n leerskool. Moenie uitstel nie. Doen dit net! So sal jy die swaarkry met lekkerkry klaarkry.







