Joernaliste en skrywer word geleer dat ‘n mens in jou openingsparagrawe so gou moontlik die vyf W’s moet antwoord – anders verloor jy jou leser:
Wie, Wat, Waar, Wanneer en Waarom?
Blykbaar het alle lesers hierdie vyf vrae in hulle agterkoppe en as dit nie effektief beantwoord word nie, beweeg die leser aan na ‘n volgende verhaal wat sy nuuskierigheid bevredig.
Ek het vir myself gevra hoe ek die nuwe jaar se vyf W’s sou antwoord. Die eerste stap is natuurlik om die vrae te formuleer – en dis op sigself ‘n lekker speletjie en ‘n groot uitdaging:
- Wie gaan vanjaar bepaal hoe die jaar gaan lyk en hoe ek gaan verander?
- Wat lê vanjaar vir ons voor?
- Waar is ek of ons nou en waar gaan ons eindig?
- Wanneer gaan dinge stabiliseer?
- Waarom gebeur alles nou wêreldwyd?
Ek het nog nooit daarvan gehou om met ‘n ek-weet-nie te antwoord nie. Selfs op skool, wanneer ek nie ‘n antwoord geken het nie, het ek diep gaan soek na enige ander antwoord. Want ek-weet-nie het vir my na tou-opgooi gelyk. Dis ‘n antwoord wat my vandag nog irriteer, want dit klink vir my so na ‘n lui en ‘n maklike manier om jou brein af te skakel en ontslae te raak van die een wat wil weet.
Maar as ons met onsself wil eerlik wees, gaan ons nie vanjaar se vyf W’s kan antwoord sonder om ek-weet-nie in elke sin in te weef nie. Maar ek gaan vir seker probeer:
- Niemand weet hoe vanjaar gaan uitdraai nie maar ek gaan beslis nie beheer oor my eie groei oorgee aan ander mense nie.
- Niemand het ‘n idee wat die nuwe jaar vir ons inhou nie, maar gemeet aan laasjaar se uitdagings, weet ek daar lê ‘n jaar van groei vir ons voor – dalk nog meer as in die oujaar!
- Ek is nie waar ek laasjaar dié tyd was nie, dit kan ek met eerlikheid sê. Waar ek gaan eindig? Beslis nie in ‘n gat van onsekerheid nie! Sekerheid is nie meer vir my ‘n vereiste nie en ek sien opgewonde uit na die raaisels wat op my wag!
- Ek is nie meer nuuskierig oor die wanneer van stabiliteit nie. Ek aanvaar dat ek soos ‘n skip op golwe vaar en ek het geleer om my balans te hou- met die op en die af van elke golf.
- Waarom? Waarom nie? is my teen-vraag. En soos Laurika sing: En skielik is ek vry!







