“Eintlik leef ons almal op die Titanic,” was James Cameron, regisseur van die fliek, se woorde. Ons ken almal die verhaal: die volmaak-geboude superskip Titanic wat in 1912 die see ingevaar het, is bestempel as ‘n tegnologiese wonder wat nooit sou kon sink nie. Die romp is gebou met sestien afsonderlike waterdigte kompartemente. Al sou tot vier van hierdie kamers beskadig word, sou die skip steeds kon vaar, het die ingenieurs belowe.

Maar ons weet wat gebeur het. Om 02h20 op 15 April 1912, het die luukse skip teen ‘n onsigbare ysberg gebots en gesink. Van die 2240 bemanning en passasiers het meer as 1500 in die Noord-Atlantiese see verdrink. Daar is geglo dat vyf van die waterdigte kamers deur die ysberg geskeur is en dat dit die oorsaak van die ramp was. Maar toe die skeepswrak jare later, op 1 September 1985 gevind is, was daar geen teken van ‘n sigbare lang skeur nie. Die skade aan een enkele kompartement het al die ander kamers beïnvloed en die skip laat sink.

Die teoloog Rick Warren noem dit die Titanic-fout – ‘n fout wat ons maak wanneer ons die lewe in kompartemente opdeel. Wanneer jy glo dat een faset van jou lewe uit balans kan wees sonder dat dit die res van jou lewe beïnvloed, maak jy die Titanic-fout, sê Warren. Wanneer jy gate en donker hoekies in sekere kompartemente van jou dink en doen toelaat, lei jy nie ‘n lewe van integriteit nie.

‘n Mens wat in integriteit glo, se optrede, denke, verhoudings en leefstyl is in balans. Geld is nie sy god nie, hy of sy gee om vir mense, vir homself, vir die wêreld en vir God. Dit beteken nie dat so ‘n mens nie foute maak of altyd sy beste voet voorsit nie. Die Engelse gesegde : What you see is what you get is wel waar van hom want hy lei nie ‘n dubbele lewe nie.

Hy weet dat enige skeur in ‘n gedeelte van sy romp, na die ander kamers van sy hart sal deursypel. En dat dit sy skip kan laat sink. Daarom maak hy werk daarvan.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs