Min dinge in die lewe is so lekker as om ouer te word! Ja, ja, daar is brille en pille, maar soveel minder grille.
Hiermee bedoel ek dat daar gesondheidsuitdagings is soos wat die lyf verouder, maar ’n mens word wyser en meer ervare in die kuns van lewe. En jy kan terugkyk op ’n pad waarin daar mylpale van sukses is en gedenktekens vir die tye toe die Here jou kom red het.
Ek kan my so verkneukel as ek aan my kaalvoetdae op die atletiekbaan dink, maar ek is net so in my noppies met my huidige vietse gim-lyf. Ek kan knop-in-die-keel wavragte stories oor my pa en ma vertel en intens na hulle verlang, maar ek het ook ’n blye verwagting om hulle wéér in die hemel te sien.
Ek het nog ambisie vir my besigheid en planne vir alles wat ek nog wil bereik, maar ek is ook stil-tevrede en dankbaar vir alles wat ek tot nou toe reggekry het. Daar is soveel prestasies waarop ek trots is en waarvoor ek die Here loof, maar ek strek my ook vorentoe na wat nóg moet kom. Ek is op reis en het beslis nog nie gearriveer nie.
Dis mos of ’n mens tussen die distels en die dorings op jou pad, ’n paar eelte ontwikkel en die vrede al hoe lekkerder in jou hart kom lê. ’n Jongmenshart kan ook die vrede ken wat ’n mens se verstand te bowe gaan, maar ons wat ouer is weet mos: Daai jongeling se verstand moet nog baie groei en daarmee saam ook die hemelse vrede.
Eintlik is daar mos nie ’n regte of verkeerde seisoen in die mens se lewe nie. As jy jonk is, moet jy dit geniet en soos jy ouer word, is die ideaal dat jy elke nuwe fase sal geniet. ’n Mens wat voortdurend terugkyk en hunker na wat verby is, is ’n onlekker mens.
Partykeer dink ek dis dalk vir ons vroue ’n rapsie moeiliker om op hierdie manier positief ouer te word as vir die manne. Miskien is ek verkeerd, miskien kyk my bril nie so lekker nie, maar dis wat ek raaksien op my reise: Vroue verlang bietjie meer na vergange jare se fleur as die mans.
Dis asof mans maar mag verouder en nie skeef aangekyk word vir elke nuwe plooi of ligament wat styf word nie. Mans met grys hare word as waardige here (“distinguished gentlemen”) beskou, maar vir ons vroue word gefrons as jy nie maar ’n kleurseltjie nadertrek nie.
Op die strande en om die swembad is dit vroue wat onder sarongs en kaftans wegkruip terwyl die oupa-lywe sonder enige huiwering die son, see en sand geniet. Intussen takel die menopouse (ja, ek oordryf lekker) vroue se vreugdes meer ongenaakbaar af as die hormonale veranderinge wat mans ondergaan.
Dis nou maar eenmaal so: As jy lank wil lewe, sal jy móét ouer word. En dis nie vir sissies nie! Dit sal vir elke individu anders wees, of jy nou ’n man of ’n vrou is. Ons kan grappies hieroor maak en tong-in-die-kies allerlei staaltjies vir mekaar vertel.
Tog is dit ’n waarheid wat ons dapper in die oë moet kyk: Baie vroue wat ouer word, voel geleidelik al hoe meer onsigbaar. Virginia Woolf het dit baie treffend in Engels in die gedagtes van een van haar karakters, “Mrs. Dalloway”, verwoord:
“Often now this body she wore …
this body, with all its capacities,
seemed nothing – nothing at all.
She had the oddest sense of
being herself invisible, unseen; unknown.”
Arme “sosiale media” kry deesdae die skuld vir alles. Dit is wel beslis so dat hierdie platforms die ewige jeug, ’n plooilose vel en ’n ewigdurende jongmeisielyf voorhou as die enigste aanvaarbare en aantreklike voorkoms vir vroue. En as jy nie meer so lyk nie, gewoon omdat jy nie 18 of 28 of 38 is nie, word jy onsigbaar en ongereken.
As jy nog onderweg is na hierdie onsigbaarheid of as jy reeds so voel, herinner jouself dan aan Helen Joseph. Gaan lees wat haar betrokkenheid op 9 Augustus 1956 was en hou in gedagte dat sy toe 51 jaar oud was.
Op haar begrafnis in 1993 het Nelson Mandela van haar gesê:
“She did not fear to contradict and be contradicted,
she feared only the loss of her dignity as a human being
and the loss of dignity forced upon others …”
Mag jy onophoudelik jou vrou staan in die wêreld as waardige ambassadeur van liefde, genade en geregtigheid. Dan is jy sigbaar soos ’n stad op ’n berg en skyn jou lig vir die wêreld soos die sterre aan die hemeltrans.







