Wat het gelukkige, suksesvolle mense in gemeen? Wel, dis nou behalwe dat hul doelwit georiënteerd is en weet hoe om geleenthede te benut. Hulle het almal ‘n goeie ondersteuningstelsel.
Om jou drome werklikheid te maak en om jou volle potensiaal te bereik het jy ander mense nodig. Die mense met wie jy jou elke dag omring het ‘n groot invloed op jou en jou gemoedstoestand. Daarom is dit belangrik dat jy ‘n netwerk van afrigters, vriende en kollegas sal hê.
Afrigters? Ja, afrigters. Al beoefen jy nie ‘n sport nie, kan jy nie die lewe aandurf sonder hulle nie. Kleintyd het jou ouers en later jou onderwysers hierdie rol vervul. Soos ons ouer word, dink ons mos ons kan alles self doen. Dis nie hoe die mens gemaak is nie. Jy het geloofsafrigters nodig, dis nou jou selgroepleier, predikant, pastoor of daardie prediker op TV wie se preke jy nie durf misloop nie.
Dan is daar jou mentors wat jou help met jou loopbaan of besigheidskeuses. Die mense na wie toe jy kan gaan vir ekstra raad en wysheid as jy vashaak met werk. Ook hulle hoef jy nie persoonlik te ken nie. Die internet is besaai met artikels wat jou kan help.
En dan is daar jou vriende en familie. Ek weet mens kry vriende én vriende, maar ek praat nou van daardie handjievol vertrouelinge met wie jy al jare lank jou menswees deel. Die manne en vroue wat jy doelbewus gekies het om deel van jou leefwêreld te wees. Ek kan nie sonder my hartsmense funksioneer nie. Waar sou ek gewees het sonder hulle wat my hart verstaan en wat die rigtingwysers op my lewenspad is?
Moenie hierdie reis alleen aanpak nie. Bou vir jou ‘n ondersteuningsnetwerk wat positief op jou lewe inwerk.
“ Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie .”
Pred. 4: 9-12