Die laaste seisoen wat vir elkeen van ons aanbreek
Hoe voel jy oor die dood? Hoe voel jy as jy die woord lees in hierdie eerste sin van my? Wil jy dalk sommer ophou lees? Wonder jy miskien hoekom is hierdie blog so morbied? Of is jy dalk ’n bietjie nuuskierig of selfs lus om hierdie tema te bedink?
Die Bybel is nie bang of skaam vir die woorde “dood”, “sterf” en “doodgaan” nie. Een van die Bybelverse wat vir ons almal kosbaar is, is Psalm 116:15 (1983-vertaling):
“Vir die Here is die dood
van sy troue dienaars
geen geringe saak nie.”
Miskien is die mees bekende woorde waaraan gelowiges graag vashou, hierdie bevestiging van Jesus in Johannes 11:25-26 (1983-vertaling):
“… ‘Ek is die opstanding en die lewe.
Wie in My glo, sal lewe al sterwe hy ook;
en elkeen wat lewe en in My glo,
sal nooit sterwe nie. Glo jy dit?’”
Jesus het, terwyl sy oor haar gestorwe broer treur, vir Marta gevra of sy in die ewige lewe glo. Hy vra dit oor die eeue heen vir elke gelowige wat oor gestorwe geliefdes treur: Glo jy in ’n tydelike aardse lewe en ’n lewe hierná?
Glo jy, soos Paulus dit stel, dat die dood nie meer ’n angel het nie?
Ons sê so maklik die woorde “Jesus se dood en opstanding”, “Jesus se kruisdood” wanneer ons praat en preek oor hoe ons verlos is. Ons dra so graag die etiket van vrygespreekte, verloste, nuutgemaakte mens op grond van Jesus se versoeningsdood.
En tog … tog is so baie van ons bang vir ons eie dood. Jesus se dood kan ons op ons lippe neem. Ons eie sterflikheid wil ons nie bespreek nie, wil ons nie oor nadink nie. Ons vermy amper instinktief mense wat in aanraking was met die dood. “Ek weet nie wat om te sê nie.”
Sielkundiges sê ons het ’n ingebore vrees dat sterftes “aansteeklik” is, dat ’n verlies soos hierdie ook my lewe sal kontamineer. Iewers in ons gene is ’n idee dat slegte geluk kan oorspoel in ons eie lewe en daarom druk ons liewer ons koppe in die sand en maak die onderwerp taboe.
Natuurlik weet ons as gelowiges op ’n intellektuele vlak dat ons geen vrees vir die dood hoef te hê nie. Maar tog … Iewers in ons lewe kom ons in aanraking met die hartverskeurende pyn van ’n geliefde wat gemis word omdat hulle gesterf het. En dit maak ons bang.
Begrafnisse is ontstellend. Ons voel radeloos en troosteloos. Ons praat oor hoe dapper die familie was wat iets gesê het soos “Dis vir die beste, die Here weet beter, hy/sy is nou by Hom”. Soms fluister ons agter ons hande oor hoe hard en koud party mense was wat niks gehuil het nie.
Maar oor die dieper denke oor ons eie doodgaan gesels ons nie. Ons los dit eerder vir digters, kunstenaars en filosowe. En dan lees ons verkieslik nie wat hulle geskryf het nie, hang nie hulle portrette in ons huise nie en woon beslis nie hulle lesings vrywillig by nie.
Miskien praat ons met ons makelaar en ’n prokureur oor testamente en polisse as die knieë begin knak en die hare oraloor grys is. ’n Handjie vol van ons luister vir die kenners en praat met familie of kinders oor “laaste wense” en sê waar die nodige dokumente vir “as-die-ergste-gebeur” is.
Wat kan ons op dees aarde dan anders doen?
Ek ken hierdie angs vir die dood. Dit beteken ons is menslik, doodgewone wesens van vlees en bloed. Die dood is vir seker ’n misterie en die grootste onbekende. Maar ’n persoon met wysheid dink dikwels hieroor na, sê Psalm 90:12 (2020-vertaling):
“Om ons lewensdae na waarde te skat – dit moet U ons leer,
sodat ons ’n hart vol wysheid kan verwerf.”
Wanneer laas het jy gedink oor hoeveel dae jy nog oor het? Wanneer laas het jy gedink oor hoe jy leef in die seisoene wat nog vir jou gegee word voor daardie laaste oomblik aanbreek? Wanneer laas het jy gebid en gevra vir wysheid om voordat jy sterf ’n volkleur lewe te lééf?
Die vyand hou daarvan dat ons swyg oor die ewige lewe, dat ons bang is vir doodgaan en mekaar nie hieroor bemoedig nie. Hy hou daarvan dat ons stiltetyd en nadenke oor ons kwesbaarheid ten alle koste vermy. Hy loop rond soos ’n brullende leeu om ons fokus van ons hemelse vooruitsigte af te trek.
Ons gedagtes behoort heeldag en elke dag besig te wees met ewigheidswaardes en hoe ons dit hier en nou kan uitleef. Deurbreek daarom die taboe en vra vir mense oor hulle belewenisse met die dood.
Lees die boeke van sterwensbegeleiers en dink oor wat hulle hoor en sien as mense hulle laaste asems uitblaas. Voel jou gevoelens, gaan vir berading, oorkom jou doodsangste. Ek moes ook, ná my ma hemel toe is …
Om die werklikheid van die dood te ontken of te ignoreer, ontneem jou van wysheid. Meer nog, dit ontneem jou van ’n volkleurlewe waarin jy ’n verskil maak en iets van die ewige Koninkryk vir ander mense nalaat:
“Al wat ek eendag saam met my kan vat,
is dit wat ek hier op aarde weggegee het”
(Morkel van Tonder, radio-omroeper en skrywer).
Verbeel jou jy staan voor die Here en julle kyk saam terug na jou lewe op aarde. Sien hoe jy beter, wyser besluite geneem het met jou laaste seisoen in gedagte. Sien hoe jy mense wat treur waarlik kon ondersteun omdat jy die waarheid oor die dood bedink en bepraat het.
.