Die dag toe ek my voltydse beroep in die korporatiewe wêreld vaarwel geroep het, was dit nogal ‘n groot skok op my sisteem. Ek het ‘n goeie salaris verdien en was goed in wat ek gedoen het.
Maar elke dag se gejaag het my die hele tyd laat dink aan ‘n groter droom wat êrens diep in my onvervuld gelê het – ‘n gevoel van iets wat vir my meer vervulling kon bied en waarin ek my doel en roeping sou kon uitleef. Die geveg tussen my hart en kop het my vir maande laat twyfel aan myself en my toekoms.
Die onstuimigheid in my gemoed het my tot stilstand gedwing en ek moes myself afvra wat presies dit was wat my gedefinieer het. Dit was ongetwyfeld my werk.
Ek het uiteindelik die geveg van die gejaagde lewe opgegee en besluit om my droom na te jaag. Skielik het ek meer tyd gehad. Ek het begin bou aan my nuwe besigheid en my droom om ʼn motiveringspreker en skrywer te word. Die verskil was dat ek nou besig was met dinge waaroor ek passievol was. Ek het skielik beter beplan. Ek het doelbewus my tyd spandeer aan dit wat vir my belangrik was. Ek het ‘n lewe van balans tussen my werk en familie begin leef. Vandag kyk ek terug na hierdie groot besluite en is dankbaar dat ek die groot stap in geloof geneem het.
Ek kan nie anders as om te wonder hoeveel ander mense nog daagliks meegesleur word deur die gejaagdheid van die lewe ten koste van hulle drome nie?
Die geheim lê daarin om ‘n denkwyse van konstante bewustheid aan te kweek. Maak jou keuses meer doelbewus. Wees bewus van jou emosies en die rede vir jou keuses en besluit om ‘n gesonde balans in jou lewe te handhaaf. Dit is ‘n groot stap in die rigting van self-ontwikkeling en seker een van die grootste geskenke wat jy vir jouself en ook die mense naaste aan jou kan gee.
“ Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan. Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in die gebed nie. ”
Rom. 12:12







