Sê ‘n vriend nou die dag so half terloops: Weet jy, ek dink die duiwel is ‘n virus. En ek dink sowaar, dis net so. En ek begin ‘n lysie in my kop maak van die eienskappe wat dié twee in gemeen het – die duiwel en COVID 19.
Hulle is albei onsigbaar. Hulle vul jou met vrees en onsekerheid en floreer op vals inligting. As jy jouself nie staal nie, het hulle albei die potensiaal om jou lewe te ontwrig. Hulle bring verdeeldheid tussen mense en breek immuniteit af.
Iemand het onlangs genoem dat ons vir mekaar “wandelende virusse” geword het. Is dit nie verskriklik nie? Dat jy elke mens wat saam met jou in ‘n tou staan, al is dit 2 meter weg, skielik as gevaarlik beskou?
My leuse was nog altyd om nie vir die duiwel – of vir vrees – vastrapplek te gee nie. Ook nie en veral nie in my kop nie. Ek weet hoe gevaarlik negatiewe gedagtes kan wees en dat ‘n mens jouself letterlik siek kan dink. En dis presies hoe ek met die COVID-virus omgaan. Ek ontken nie sy bestaan nie, ek was my hande, hou my afstand en dra my masker. Ek glo dat dié wat dit nie doen nie, dom en selfsugtig is en ander se lewens in gevaar stel.
Maar ek glo dat ek my eie immuniteit kan opbou en myself kan bewapen met kennis, gesonde verstand en ‘n gesonde leefstyl. Die woord corona herinner my aan die kroon van my Koning – ook die doringkroon wat Hy vir my gedra het. Hy het die dood oorwin deur self daardeur te gaan, en anderkant uit te kom.
Miskien is dit ook die pad wat ons nou loop – deur die inperking en die afsondering, deur die ontbering, die geldelike swaarkry en die onsekerheid oor die toekoms. Ons weet dat ons nooit weer op dieselfde manier na die lewe gaan kyk nie. Maar ek glo dat jy kan kies of jy op die kruin van die berg op die pad wat jy geklim het, gaan terugkyk – en of jy gaan kies om onder in die kloof van jou vrees vas te sit.







