Bekgevegte en Gemene Sêgoed

Haastige humeure is deesdae ‘n algemene verskynsel. Onsekerheid, wat mense maklik uit beheer uit laat voel, kan gemoedere vinniger laat opvlam – dis dood menslik en te verstane.

Kyk ‘n slag wat gebeur om die konferensietafel (al is dit in die jongste tyd op ZOOM of voor rekenaarskerms). Een persoon maak ‘n aanvegbare stelling en skielik is daar ‘n ontploffing. Ek het onlangs met tieners gepraat en een hoor sê dat daar miskien nie meer atletiek en sport by die skool is nie, maar dat woede en bakleiery die plek van dié uitlaatkleppe oorgeneem het. 

‘n Matriekdogter het prontuit gesê dat bekgevegte en gemene sêgoed, haar maats se manier geword het om van hulle frustrasies oor verlore menskontak ontslae te raak. Want hulle voel verontreg, ingedoen en geknou – beroof van ‘n matriekafskeid en al die lekker dinge wat matrieks voor hulle, as vanselfsprekend aanvaar het.

Baie van hierdie gevoelens kom ook om die gesin se etenstafel uit. Die vraag is: wat maak ons met hierdie emosies?

Ons weet dat dit ongesond is om gevoelens te ontken of op te krop – dis ‘n resep vir ‘n ontploffing op die verkeerde tyd en plek. Ons moet ruimte laat vir uitpraat en afblaas en vir perspektief kry.

Maar hierin lê die sleutel: dit kos één mens wat bereid is om te luister. Gedragswetenskaplikes het bevind dat een opregte luisteraar ‘n plofbare situasie kan ontlont. Sodra die gefrustreerde persoon voel dat iemand bereid is om na sy kant van die saak te luister, kom daar ‘n verandering in sy gemoedstoestand. Dis nie belangrik dat die luisteraar die probleem moet oplos nie, hy of sy moet net opreg wys dat hy probeer verstaan.

Dit het my laat dink aan die Bybel se beginsel van vergifnis, en hoe Jesus gesê het dat jy, wanneer jou broer iets teen jou het, JY die eerste tree moet gee om die verhouding te herstel. Dit maak nie vir ons sin nie, want ons glo dat die een wat die fout gemaak het, dit moet herstel.

Maar probeer ‘n keer om, op Jesus se manier, die een te wees wat diep asem haal en sê: “Vertel my. Help my om te verstaan.” En kyk hoe ontketen jy ‘n Krag groter as jouself.

Want dit kos net één om te luister…

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Seek to understand
Inspiration

Seek to understand

Stephen Covey’s classical bestseller, “Seven Habits of Highly Effective People,” contains a wealth of insights and tips that would improve any reader’s life.

Read More »