Behou jou momentum ná Nuwejaarsdag

So tydens my reise deur ons mooi land ontmoet ek nie net baie mense nie, maar ook baie besonderse mense. Sommige vlieg hoog met groot sukses, maar is nederig en dankbaar. Ander beur voort te midde van teenspoed, maar is dapper en het so baie hoop. Nog ander is stil en beskeie, maar verskuif berge vir ander mense.

Ek het ’n paar van hulle gevra wat dit is wat hulle motiveer om ’n nuwe jaar aan te durf en nie teen Paasfees op moedverloor se vlakte te sit nie. Sommige van hulle antwoorde het my onkant gevang, party het bevestig wat ek self ook glo en ek deel graag twee idees met jou.

1. Sorg dat jou omgewing netjies en ordelik is

Ek hoor sommer hoe klop die perfeksioniste hulleself op die skouer, want hierdie eerste stukkie raad het hulle mos lankal in plek. Mooi so!

’n Georganiseerde werksruimte en ’n persoonlike omgewing wat jou kalm laat voel, help regtig om jou gemoed optimisties te hou en bevorder fokus en konsentrasie op doelwitte. Wees net versigtig om nie obsessief skoon te maak en op te ruim nie, want dit lei ook jou aandag van jou drome af en maak jou moeg en moedeloos.

As jy jou egter in “georganiseerde chaos” bevind en jy wil dit verander, begin so klein as moontlik. Net één oorlaaide laai of net één hoek van jou kreunende werksblad op ’n slag. Elke afgehandelde takie gaan jou aanspoor om vol te hou, stappie vir stappie.

Gaan soek op YouTube na video’s van ’n deskundige wat vir jou oulik lyk en wie se benadering vir jou sin maak om die proses van skoonmaak en weggooi te verstaan en te implementeer.

2. Kuier meer met positiewe mense

Vir die ekstroverte en sosiale vlinders sê ek dadelik: “Mooi so dat julle hierdie raad reeds pligsgetrou volg!”

Om gereeld met optimistiese mense te gesels en in hulle omgewing te wees, is letterlik goed vir jou gesondheid. Ons goedvoelhormone se vlakke verhoog en ons breinkrag ook, as ons positiewe emosies en kennis met mekaar deel. Maak net seker julle steek nie vas by oppervlakkige praatjies nie en sorg ook vir doelbewuste mentorsessies.

As jy meer introvert is, hoef jy jouself nie met ’n sweep aan te dryf na groot kuiers met baie mense nie. Kies met omsigtigheid ’n paar mense by wie jy gemaklik voel, maar wat bietjie meer praat as jy en jou uit jou kamer sleep om byvoorbeeld in die natuur of ’n gesellige koffiewinkel te kom.

Saam met die ja’s wat jy gaan sê vir saamwees met motiverende mense, gaan jy meer kere moet nee sê vir dié wat jou batterye pap maak. Op ’n hoflike manier, hoor! En ons sal almal moet werk aan ons emosionele intelligensie om te weet hoe om te reageer op mense wat gedurig kla, sonder om hulle swaarkry te ontken.

Skud die stof van die Oujaar van jou voete af, verf jou toonnaels bloedrooi en doen wat jy kan om jou paadjie in die nuwe jaar elke dag aan te hou stap. Waar jou eie motivering te kort skiet, sal die Here jou verras, ver bo jou verstand.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

The Five Love Languages
Love Languages

The Five Love Languages

Almost 3 decades ago, Gary Chapman’s The Five Love Languages, took the world by storm. 13 million copies later, it is still a popular communication

Read More »