Sien ek nou die anderdag hierdie inskrywing raak: “Het jy regtig ‘n slegte dag gehad of het daar iets fout gegaan vir 5 minute en toe broei jy die heeldag daaroor?”
Ons kan ons partydae dinge mos so aantrek. Die taxi wat voor jou ingedraai het op pad werk toe is mos genoeg rede om jou smoorkwaad te maak. Jy bel jou beste vriendin om jou lot te bekla: “Dis weer een van daardie dae. Hierdie hele week is onderstebo!” Sjoe, regtig?
Jy sien, ons fokus so maklik op die negatiewe dinge. Dis wanneer jy smoorkwaad is vir die taxibestuurder, dat jy skielik alles sien wat verkeerd is. Die man wat sonder ‘n flikkerlig draai, die vrou daar anderkant wat in haar spieëltjie kyk of haar grimering reg is, en ja wraggies, hier ry ‘n polisieman sonder ‘n veiligheidsgordel! Jou brein begin oortyd werk, skielik kan jy aan niks anders dink as al die probleme in die ou wêreld nie. Jy werk jouself op. Teen die tyd wat jy by die werk kom, is jy kwaad vir alles en almal. Nodeloos om te sê, maar van daar af loop niks verder reg nie.
Ai, al die vreeslike negatiewe reaksie oor ‘n taxibestuurder wat voor jou ingedraai het. Daar was nie ‘n ongeluk nie. Niemand het skade gely nie, behalwe jy! Want jy het gekies om verkeerd te reageer. Ja, ja, klein dingetjies kan ons maklik omkrap, maar wanneer dit nou weer gebeur, moenie laat jou emosies op loop gaan en jou gedagtes in ‘n negatiewe rigting inslaan nie. Fokus dadelik op iets anders, al is dit net die helder blou lug of ‘n verdwaalde blom in die tuin waar jy verby ry. Kry jou gedagtes in toom. Dink aan goeie dinge. Soek die mooi, dink aan iets wat jou laat lag, sing saam met die radio… ek waarborg jou, jou dag sal nie onderstebo eindig nie!







