Die gevaar is nie om te misluk nie, maar dat jy tevrede kan word met die tweede beste!
Ek is besig, besig, besig! Ek is baie, baie besig. Mense vra dikwels hoe ek my besige lewe bestuur en by alles uitkom. Eenvoudig – ek werk nie. Ek leef my passie en ek omring my met bekwame mense. Dit voorkom dat ek elke dag moeg en afgemat opstaan.
Dit gaan egter oor meer as net dit. Die strewe na doelbewuste balans is ‘n baie belangrike komponent. Dit gaan oor opweeg, letterlik elke faset en verhouding in jou lewe van nader te bekyk en te weeg as lig of swaar, belangrik of onbelangrik. Dit gaan oor prioriteite en keuses tussen reg en verkeerd, om debiete en krediete te laat klop.
Boekhouers praat van boeke wat moet klop of balanseer, kunstenaars verwys na balans as die harmonie van ontwerp en proporsie, en filosowe praat van ʼn gebalanseerde lewe wat geluk en vrede bring. Waarom moet dinge in balans wees? Maklik. Om te keer dat dit val. Om iets te balanseer, is om dit in ʼn stabiele posisie te plaas, sodat dit nie sal val nie.
Wanneer jy jou gesondheid verwaarloos, word jy moeg en siek.
As jy meer eet as wat jy met jou daaglikse aktiwiteit opgebruik, sit jy gewig aan. Wanneer jy geld en besittings najaag, ly iets daaronder – jou gesondheid, jou geluk, jou siel, noem maar op. Wanneer jy jou tyd ongebalanseerd indeel, vat dit nie lank voordat dinge jou begin inhaal nie. Jou verhoudings, gesondheid en lewensgeluk ly daaronder.
As jy dit nie doen nie, is jou voorland ʼn skaal wat tiep – ʼn ewewig wat uit is. En ʼn deel van jou lewe wat onstabiel is en uiteindelik val. Balans is nie iets wat ʼn mens vind nie, maar iets wat jy doelbewus skep wanneer al die fasette van jou bestaan gelykwaardig en in die regte verhouding is.
“ ’n Verstandige mens sien onheil kom en tref voorsorg vir homself. Onverstandige mense loop oopoë daarin en betaal die prys daarvoor. ”
Spr. 28:12 (NLV)







