Die grootste hiervan is die liefde

Glo jy in liefde met die eerste oogopslag? Dit kan ’n interessante debat tussen vriende en familie word, want ons het vir seker almal verskillende sienings hieroor. Maar ek moet bieg: Ek is mal oor ’n romantiese, “love-at-first-sight”-verhaal.

Dié een het ek donkiejare gelede tydens ’n episode van die Oprah Winfrey-program gehoor. Dit begin in een van die konsentrasiekampe in Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Op ’n wanhopig-koue wintersdag tuur ’n seun deur die doringdraad. ’n Meisie loop verby en stop toe sy hom sien. Hulle kyk na mekaar en opeens gooi sy vir hom ’n appel oor die draad. Saam met die appel kom lê daar ’n sprankie warmte in sy hart.

Die volgende dag loop die seun met trillende bene weer na die draad. Durf hy hoop? Ja! Sy is weer daar … Nee, dis nie ’n droom nie, want sy gooi weer ’n appel na hom toe.

Vir ’n paar dae lank ontmoet die twee jongmense mekaar op hierdie manier, tot die seun op ’n dag vir haar sê: “Jy hoef nie meer vir my ’n appel te bring nie. Ek gaan na ’n ander kamp geskuif word.”

In die ander kamp dink hy elke dag aan haar en klou verbete aan die lewe vas. Jare later, nadat hy alles en almal in sy lewe verloor het, beland hy in Amerika. Hier reël iemand vir hom ’n afspraak met ’n onbekende vrou. Sy kom ook uit Duitsland.

Hulle gesels natuurlik oor die oorlog. Hy vra haar: “Was jy ook in ’n kamp?” “Nee,” sê sy, “maar ek het vir ’n rukkie elke dag ’n appel vir ’n seun in so ’n kamp gaan gee, totdat hy eendag weggeneem is.”

Met sy hart wat in sy keel klop, sê die man: “Dit was ek! Ons is destyds van mekaar geskei, maar nou wil ek altyd saam met jou wees … Sal jy met my trou?”

Op hierdie episode van die Oprah Winfrey-program het ek die onvergeetlike woorde gehoor wat hy veertig jaar later voor die hele wêreld vir haar gesê het: “Jy het my vir soveel jare gevoed en al waarna ek steeds honger, is jou liefde.”

In Genesis is daar ook ’n romantiese verhaal van ’n man en ’n vrou wat met die eerste raaksien van mekaar baie vinnig tot trou gekom het: Isak en Rebekka. Die Bybel vermeld baie spesifiek hoe lief hulle mekaar gehad het en hoe hierdie liefde Isak vertroos het ná die dood van sy ma.

Die lewe is nie ’n sprokie nie. Trouens, ’n groot romanse of ’n liefdesavontuur waaroor ’n mens ’n boek kan skryf, is hoogs uitsonderlik. Maar God se liefde vir mense is vir elkeen van ons waar en vir elkeen van ons ’n werklikheid.

In ’n liefdelose wêreld bring God se verhaal van versoening vir ons troos. Hy het elkeen van ons eerste raakgesien – nog voordat ons gebore is. Sy liefde vir ons het geen einde nie en voed ons met die ewige lewe.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Have fun, laugh and dance
Happiness

Have fun, laugh and dance

Having and creating fun opportunities is a vital ingredient of a happy and fulfilling life. We tend to only take negative or ‘heavy’ emotions seriously

Read More »
Waarop fokus jy?
Inspiration

Waarop fokus jy?

Ek lees onlangs dat die teenoorgestelde van geloof nie ongeloof of twyfel is nie, maar vrees. DIt het my twee keer laat dink en ek

Read More »
Keep on keeping on
Inspiration

Keep on keeping on

Somewhere in my past, I found inspiration in my own home-made inspirational slogan: Keep on keeping on . It could have been at high school,

Read More »