Ek het met geleentheid die volgende interessante storie gelees. ʼn Seuntjie het ʼn goudvissie vir ʼn troeteldiertjie gehad. Een dag toe hy in sy kamer kom, lê die vissie op sy rug. Die seuntjie was bitterlik ontsteld en het snikkend na sy pappa gehardloop: “Pappa, pappa… my goudvissie is dood.”
Sy pa het sy snikkende seuntjie probeer troos en voorgestel dat hulle ʼn vissie-begrafnis agter in die erf hou waar hy self die predikant kan wees. Hulle sal die vissie in ʼn vuurhoutjiedosie begrawe wat met watte uitgelê sou word, waarna hulle die houertjie mooi sal oortrek met foeliepapier. Hy kan ook sy maatjies nooi vir die begrafnis en na die tyd sal hy hulle na McDonald’s neem waar hulle ʼn heerlike burger kan eet asook ʼn melkskommel kan drink. Teen hierdie tyd was die seuntjie se traantjies opgedroog en die hartseer is vervang met die wonderlike vooruitsig van maatjies en McDonald’s.
In die kamer gekom om die vissie uit te haal vind hulle dat die vissie omgedraai het en weer al in die rondte begin swem het. Vir ʼn oomblik was die seuntjie opgewonde tot hy skielik besef dat daar nou geen maatjies en McDonald’s gaan wees nie. Hy kyk na sy pappa en sê: “Pappa, pappa… kom ons maak die vissie dood.” Sjoe!
Hierdie is ʼn eenvoudige storie van ʼn klein seuntjie se natuurlike gedrag, wanneer die een behoefte bo die ander seëvier, maar tog ook so waar in die lewe van volwassenes. Dit gebeur dikwels dat ook ons, ons integriteit en waardigheid op die spel plaas, wanneer daar oënskynlik beter geleenthede op ons pad kom. Ook ons maak soms die eens geliefde vissie dood vir ʼn nuwe geleentheid. Wees maar versigtig om nie jou integriteit in te boet ten koste van jou karakter nie. Karakter word nie tydens ʼn krisis gebou nie – dit word slegs ten toon gestel.







