Liefde is sekerlik een van die emosies wat die meeste geluk en ongeluk in die wêreld bring. Dis meer as ʼn emosie. Dit het al oorloë veroorsaak maar dit is ook een van die mees opbouende kragte in mense se lewens.
Sowat drie dekades gelede, het die skrywer Gary Chapman met sy Vyf Tale van die Liefde-boek terapeute en paartjies toegerus met ʼn nuttige stukkie gereedskap. Die boek is in ʼn verskeidenheid tale vertaal en het meer as 13 miljoen eksemplare verkoop. Die belangrikste boodskap is dat mense verskillende liefdestale praat omdat verskillende dinge vir mense belangrik is. Wanneer jy jou eie liefdestaal ken en ook dié van jou maat, kan julle mekaar se emosionele behoeftes verstaan en so mekaar se emosionele behoeftes bevredig.
Deur mekaar se liefdestale te leer ken, kan paartjies mekaar aanvul, nader aan mekaar beweeg en so belê in ʼn gelukkige liefdesverhouding. Die vyf basiese liefdestale is:
- Bemoedigende woorde
- Kwaliteit-tyd saam
- Fisiese aanraking
- Diensbaarheid
- Geskenke
Hierdie tale word onderbewustelik deur albei gebruik om liefde te wys. Maar dikwels sien die ander party dit nie raak as ʼn gebaar van liefde nie, omdat hy of sy iets anders belangriker ag. Deur met oper oë na jouself of jou maat te kyk, kan jy begin leer hoe jy sy hartsnare sal roer – en ook verstaan waarom jyself afgeskeep voel. Dit het nie te make met hoe lief julle mekaar het nie, maar met die feit dat julle liefdestale verskil. Net soos wat ʼn Engelsman nie ‘n Fransman kan verstaan totdat hy sy taal aanleer nie, praat julle gewoon by mekaar verby!







