Ek kan my verkyk aan mense. Omdat ek baie ure op lughawens deurbring, het dit al vir my tweede natuur geword om my mede-reisigers dop te hou en met verbeelding te wonder oor wat in hulle lewens aangaan.
Maar as daar een gewoonte is wat ek gereeld optel, is dit mense se vrees vir oogkontak. Kyk maar wat gebeur as jy in ‘n vollerige hysbak klim. Mense kyk vir die dak en die vloer, die hysbakknoppies en die deur – enigiets om net nie oogkontak te maak nie. Dieselfde gebeur wanneer ons in die bussie of die instaptou staan. Dis al asof mense bang is dat oogkontak kan veroorsaak dat iemand met jou sal wil praat.
Ek hoor gereeld mense sê dat jy nooit met ‘n bedelaar of ‘n verkoper by ‘n verkeerslig moet oogkontak maak nie. Want dis hoe hy jy hom nader nooi en wie weet, dalk is die mannetjie wat die donkerbrille of die selfoonlaaiers verkoop, gevaarlik en slaan hy jou ruit stukkend.
Maar het jy geweet dat daar ‘n verband is tussen mense se vlak van geluk en hulle ingesteldheid teenoor vreemdelinge? Navorsing het bewys dat mense met ‘n innerlike vrede en geluk, nooit fronsend of sleepvoetend loop of doelbewus oogkontak vermy nie.
As jy met ‘n oop gemoed na ‘n vreemdeling kyk, sal jy gou agterkom dat hy of sy baie met jou in gemeen het. Die oomblik wanneer jy mense benader soos wat jy graag benader sou wou word, besef jy dat almal dieselfde behoeftes het – aan respek, vriendelikheid en doodgewone mede-menslike aanvaarding. Ons ken almal die storie van ‘n glimlag wat aansteeklik is, maar het jy dit al getoets?
Kyk wat in jou eie gemoed gebeur wanneer jy die dag met vreemdelinge oogkontak maak en hulle begin sien as mense wat dieselfde behoeftes het as jy. Kyk vir die bedelaar by die stopstraat, al gee jy hom niks – erken hom net as mens en seën hom met ‘n glimlag. Jy gaan vir seker een terugkry.







