Oefen om niks te doen!

Om af te skakel, kom nie by my vanself nie. Ek glo ek is gebou vir spoed en vir nuwe dinge. Ek is geseënd met baie energie en al klink dit gevaarlik, kry stres my nie maklik onder nie. Ek glo dat dit my uitdaag om myself en my omstandighede te herskep.

Maar soms betaal ek daarvoor. Met ʼn kop wat my naglank wakker hou van al die planne wat sy maak. Soms dink ek myself in die middel van die nag wakker en dan moet ek die groot besluit neem: staan ek op en gaan doen iets, of luister ek na ʼn sagte musiekie om myself weer aan die slaap te kry. Want ʼn lyf wat nie genoeg slaap inkry nie, kom nie lekker deur ʼn dag nie.

Ek kon nog nooit verstaan hoe mense verveeld kan wees nie. Ek weet nie eens hoe dit voel nie. Wanneer iemand in my kring van geliefdes (veral die tieners) kom kla oor verveling, wil ek op die daad vir hulle joppies uitdink. Want in my agterkop is dit ʼn luukse wat geen mens kan bekostig nie.

Maar toe lees ek onlangs dat ʼn mens soms verveeldheid en niksdoen moet oefen. Verbeel jou! Die neurowetenskaplikes sê dat jy elke dag sestien minute lank moet stil sit en selfs ophou dink. Dit is glo gesond vir jou brein. Ek glo absoluut in soggens se stiltetyd. Maar dis wanneer ek Bybel lees en met God praat. Om alle gedagtes af te skakel, is ʼn ander storie.

Die geleerde wat in gedwonge verveeldheid glo, sê dat dit die enigste manier is om behoorlik te ontspan. Hy sê ons moet ophou vooruit dink. Mense wat die hele tyd die volgende doen-ding bedink, maak hulleself angstig. Hulle skakel kompulsief die TV aan wanneer hulle tuis kom om kwansuis te weet wat in die wêreld aangaan. Maar eintlik is dit omdat hulle nie kan ontspan nie. Hulle weet nie hoe om net te wees nie. Ons is human beings, nie human doings nie, sê hy.

Wat my beïndruk het van sy teorie, is dat die niks-doenery nie net vir jou brein ʼn blaaskans gee nie, maar jou by ware vrede uitbring. Dalk iets wat ons tog moet oefen…?

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Die snoeiskêr
Inspiration

Die snoeiskêr

As jy swaarkry kies, is daar fout met jou. Dis iets wat masochiste doen. Maar as jy ‘n berg wil klim, weet jy dat jy

Read More »