Ek lees onlangs hoe ‘n dapper vrou besluit het om haar ou huis se deure te restoureer. Sy vertel van die harde werk om deur lae en lae se groen en beige en bruin emaljeverf te skuur totdat sy uitendelik op die pragtige douglas-dennehout (oregan pine) afgekom het. Hoe nader sy aan die antieke hout gekom het, hoe versigtiger moes sy werk met haar messie en haar skuurpapier, want sy wou nie die hout seermaak nie.

Maar dan vertel sy van die heerlike ontdekking van die oorspronklike deur. Sy vertel hoe eerlik en mooi die deur en sy kosyn vir haar gelyk het toe hulle afgeskuur en gesond gedokter is. En sy wonder wat die mense van jare toet besiel het om die mooi onder lae en lae blink verf weg te steek.

Dit het haar aan haarself laat dink en die gekrap en skuur het haar laat dink aan die noodsaaklike stroopproses waardeur ons eintlik ook behoort te gaan. Want begrawe ons nie ook maar ons siele en ons ware selwers onder lae cheap verf nie? Gewoontetjies en verhale waarmee ons die pyn en die swaarkry uit ons eie verlede probeer toesmeer nie?

Is ons nie ook maar soos ‘n ou deur of ‘n meubelstuk wat in sy wese baie werd is, maar as gevolg van omstandighede in iets verander het wat ons regte waarde verraai het nie? Dalk het ons toegelaat dat ander ons onder die verf toesmeer, net om êrens in te pas of ‘nuut’ te lyk? Dalk het ons dit self gedoen.

Maar dalk het dit nou tyd geword om met die restourasiewerk te begin. Om laag vir laag die emaljeverf af te krap, totdat ek by my oorspronklike houtraam uitkom. Ek moet dit versigtig doen en nie onder druk nie. En ek moet tyd maak om stil te staan by elke kleur se verhale. Daar was immers ‘n rede waarom ek op ‘n dag olyfgroen wou wees, en later ‘n veilige beige.

Maar dalk is ek nou reg om by my eerlike hout uit te kom. En net te wees wie en wat ek gemaak is om te wees. 

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Pip die Perskepit
Inspiration

Pip die Perskepit

Soms leer ek nogal ‘n lewensles of twee uit kinderverhale. So êrens voor die vroegaandnuus is daar deesdae die verhaal van Pip die Perskepit. Ek

Read More »