Beraders word geleer om heel aan die begin van ‘n gesprek versigtig uit te vis waar die kliënt hom of haar emosioneel bevind. Goeie leiers doen dieselfde. Voordat hulle die pas van voor af aangee, maak hulle eers seker waar hulle volgelinge is.
Eintlik is dit ‘n gesonde beginsel vir enige verhouding en sinvolle gesprek – om eers seker te maak waar jou maat hom of haar bevind. Maar doen ons dit? Maak jy, voordat jy wegval met jou storie, seker dat jou hoorder gesond, gelukkig en sonder ernstige probleme voor jou sit? Anders sal hy nie kan luister of hoor nie.
‘n Mens dink onwillekeurig aan oorlogsflieks, waar soldate op radio’s na mekaar roep in hulle eie kodetaal: “Alfa-Bravo, dis Charlie-Delta, kom in…” En dan sou dit dom wees van Alfa-Bravo om te begin praat voordat Charlie-Delta van hom laat hoor het. Want hy weet goed dat hy in die wind sal praat as hy nie wag vir die belangrike “Oor”-sein nie.
In verhoudings, en veral naby-verhoudings, neem ons so maklik aan dat die ander party is waar ons is. Ons lag daarvoor wanneer dit in sepies gebeur, juis omdat dit so waar is in ons eie huise.
Pa kom moeg van die werk af en gaan sit met ‘n bier voor die televisie. Woordeloos. Ma vervies haar, gaan neem teenoor hom stelling in en begin afpak oor die dag se frustrasies. Sy gaan aan waar hulle twee vanoggend die gesprek halfpad moes laat hang omdat daar nie genoeg tyd was nie.
Nie een van die twee vra vir die ander een hoe sy of haar dag was nie – want albei het ‘n ligte vrees vir die antwoord. In die proses, het nie een van die twee “ingecheck” nie. Hulle vertrek van verskillende perronne af en glo dat hulle mekaar gaan ontmoet. En soos twee treine op total verskillende spore, praat hulle by mekaar verby. Pens en pootjies tot binne-in ‘n struweling wat eintlik op ‘n reeks misverstande gebaseer is.
Dit kon alles voorkom word deur een maklike vraag: “Waar kry ek jou?” Gevolg deur ‘n kort stilte en ‘n opregte belangstelling in die antwoord.







