‘n Suksesvolle graanboer in Amerika het jaar na jaar met die trofee by die landbouskou weggeloop. Kom ons noem hom Boer Jan. Sy mede-boere het geglo dat dit sy bankbalans was wat hom so suksesvol gemaak het. Hulle was te bang om hom vir sy geheime plantresep uit te vra, want daar was maar, soos in enige bedryf, ‘n bietjie jaloesie onder die manne.

Maar die TV-joernalis het hom prontuit gevra waaraan hy sy sukses van die afgelope drie jaar toeskryf. Sonder om te aarsel het die boer geantwoord: “Natuurlik belê ek in die heel beste saad, want dis die begin van ‘n goeie oes. Maar dis nie waar my geheim lê nie.”

Die spanning het opgebou. Die meeste boere het ook goeie saad aangeplant, maar nie een het Boer Jan se kwaliteit graan ge-oes nie. 

“My geheim lê in my bure,”het Boer Jan geantwoord., “Ek maak jaar vir jaar seker dat al my bure presies dieselfde saad gebruik as ek. Dit doen ek deur vir hulle die saad te gee.”

“Maar dit moet jou ‘n fortuin kos!” het die joernalis uitgeroep. En wou weet waarom hy die onekonomiese strategie volg. 

“Dis dood eenvoudig” was Boer Jan se rustige antwoord. “Die wind waai die stuifmeel na ons almal toe, en as my bure met swak saad boer, sal dit my oes beslis raak. Vandat ek my saad met hulle almal begin deel het, het dit die gehalte van die graan in ons omgewing op standaard gekry en ons pluk almal saam die vrugte daarvan. Dit was ook sommer goed vir goeie buurmanskap. Daar is geen kompetisie tussen ons nie, ons vat hande en ons maak almal saam seker dat daar geen minderwaardige graan in en om ons plase verbou word nie.”

Dit laat ‘n mens dink, né?

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs