‘n Virus met hoëhakskoene aan

Dis nie aldag dat ‘n virus met hoëhakskoene by die deur ingestap kom nie. Dis wat COVID-19 gedoen het. Ons assosieer virusse en dodelike siektes met primitiewe omstandighede en armoede. Hulle name sê dit ook: varkgriep, melaatsheid, die pes, ensovoorts. En wanneer iemand positief toets, kom die stigma vanself.
 
Hierdie keer is dit so anders. Dis die grênd mense wat oorsee gereis het, wat hom land-in gebring het. Opgedres en onvoorspelbaar het hy sy opwagting gemaak en ons almal skielik gelyk gemaak.
 
Drie maande later is daar nie meer ‘n onderskeid nie. Ryk en arm, oud en jonk, dra ons saam ons maskers, sit en staan ons saam in toue by dokters en winkels en raak ons gewoond aan die “Nuwe Normaal.”
 
Ons het ‘n nuwe woordeskat bygekry en ons gesprekke gaan oor nuwe uitdagings: hoe om met ‘n masker aan te keer dat jou bril opwasem; of die kinders moet skool toe gaan of by die huis bly. Om te kla oor die grendeltyd het afgesaag geword en ons doen dit minder.
 
Ons het aangepas. Inkopies doen is nie meer lekker nie. Ons doen dit vinniger en kry dit agter die rug. So spaar ons nogal baie geld. In dokters se wagkamers kan ons nie meer kuier nie want die stoele is anderhalf-meter uitmekaar geskuif. En dis in elk geval nie lekker om met ‘n masker op te probeer praat nie.
 
Ons het ook slim geword. Ons hou vergaderings en doen Pilatesklasse met Zoom en webinare en allerhande nuwe maniere van leer – selfs studente en skoolkinders het aangepas by ‘n nuwe manier van klas draf.
 
Ons het gewoond geraak aan die statistiek wat nie meer in tiene of honderde groei nie maar in duisende. Ons vrese het effens afgeplat en ons sien uit na die volgende oopmaak-fase. Al weet ons dat die virus nog lank met ons gaan wees. 
 
Sy het haar hoëhakskoene intussen verruil vir pantoffels – want dis heeltemal te koud vir sykouse deesdae…

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Krap die verf af
Inspiration

Krap die verf af

Ek lees onlangs hoe ‘n dapper vrou besluit het om haar ou huis se deure te restoureer. Sy vertel van die harde werk om deur

Read More »