Soms leer ek nogal ‘n lewensles of twee uit kinderverhale. So êrens voor die vroegaandnuus is daar deesdae die verhaal van Pip die Perskepit. Ek het die begin van die verhaaltjie gemis, maar ek lei af dat dit gegaan het oor die diep en innige vriendskapsband tussen Pip en Boer Jan.
Boer Jan is ‘n goeie man wat vir Pip met groot geduld verduidelik het hoe hy diep onder die grond begrawe moet word sodat hy in ‘n pragtige perskeboom kan verander. Pip was bitter bang en niks lus vir hierdie begrafnis nie. Maar al sy vertroue was in Boer Jan.
Die storie trek nou daar waar Pip bitter alleen onder die grond is. Hy het lang huilsessies want dis vir hom niks lekker nie en hy sien nie die lig nie. Om dinge erger te maak, kom daar ‘n slang verby wat hom verder bang praat en al sy vrese beaam. Soms is daar ‘n goeie stemmetjie van ‘n gogga of gediertetjie wat nuus van die buitewêreld af bring en vir hom vertel hoe Boer Jan hom elke dag getrou kom water gee.
Maar Pip se dilemma is ons almal s’n: Om die donker kant van die groeiproses en van verandering te aanvaar en dit eenvoudig uit te sit. Want dit vat solank as wat dit vat. Dis alleen en dis ongemaklik en jy moet kans sien om uit jou gemaksone te beweeg. Jou vrees sit saam met jou daar onder die grond, en jy kan weet dat die erdwurms jou vrese vir jou gaan opblaas. En as jy jou ore aan hulle gaan uitleen, sal jy die handdoek ingooi.
Al wat jy het om aan vas te hou, is jou droom van die groen boom wat jou nuwe identiteit gaan word – en die feit dat jy vir Boer Jan op sy Woord kan vat want Hy het nog nooit gejok nie.







