Is jy bang vir ‘n gewone verkoue of vir griep? Soos in doodsbang? Die antwoord op hierdie vraag is tien teen een NEE. Of dalk was dit nee tot op Sondag 15 Maart, toe pres Cyril Ramaphosa die noodtoestand oor die Covid 19-virus afgekondig het. Want dit is toe die groot BANG in ons huise ingetrek het.
Dr Inéz Rossouw, viroloog verbonde aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat, gee die volgende perspektief op hierdie verlammende vrees:
Verkoue en griep is hoogs aansteeklik – dit weet ons. Van die 29 miljoen mense wat net in die VSA griep of influenza opgedoen het, is 18 000 dood in die afgelope jaar. In Suid-Afrika sterf daar elke jaar meer as 10 000 mense aan griep. In die wêreld staan die statistiek van jaarlikse influenza-sterftes op 600 000. Maar niemand raak histeries daaroor nie en vir die medici is dit iets wat hulle verwag.
Dr Rossouw vra prontuit die vraag: Waarom is ons nie bang vir ‘n siekte wat jaarliks meer as anderhalf-miljoen mense doodmaak nie, maar ons verloor total en al perspektief oor ‘n virus waarvan derduisende mense tog herstel. Sy ontken nie die gevaar van Covid 19 nie en glo dat die 10000+ sterftes beslis nog gaan toeneem en dalk die griep-statistiek mag inhaal, wie weet. Sy glo ook dat die noodtoestand en die bewusmakingsveldtog noodsaaklik is, maar die histerie is waarteen sy waarsku.
Ons uitdaging op die oomblik is om die twee uiterstes raak te sien. Aan die een kant, kan ons paniekerig raak omdat ons onseker is en uit beheer uit voel. Dis wanneer jy die winkels invaar en die hele rak se hand-saniteerders opkoop, en toiletpapier vir die res van die jaar (‘n vreemde verskynsel dwarsoor die wêreld!). Aan die ander kant kan jy in ontkenning leef en besluit dat dit nie waar is nie, en sal oorwaai. Dis die mense wat nog steeds met die hand of met soene groet uit eie opstandigheid.
Albei hierdie benaderings is ongesond. Balans, perspektief en ‘n diep innerlike kalmte, wat ‘n mens net by God kry, is wat ons in hierdie dae gaan laat oorleef – en ons by die vrede gaan uitbring wat ons in hierdie dae so bitter nodig het.







