Verandering is ‘n gegewe. Wees bly daaroor, want dit skep geleenthede!
Maak nie saak wie jy is, waar jy bly of wat jou posisie is nie… verandering sal jou adres vind en by jou kom aanklop. Niks is so finaal soos verandering nie. Indien ons hierdie onvermydelike waarheid kan aanvaar, kan ons met ’n realistiese verwagting leef en sodoende teleurstellings beperk.
Ons ervaar vier basiese tipes veranderinge, onverwags of beplan, in ons lewens: Verandering wat met ons gebeur. Dit affekteer ons persoonlike lewens, familie, toekoms, ens. Dit wat om ons gebeur affekteer ons gemeenskap, nasie en wêreld en het ’n impak op ons persoonlik asook ons leefwyse. Verandering wat in ons gebeur het ’n direkte invloed op wie ons is – fisies, emosioneel en geestelik. Verandering wat ons laat gebeur. Iets wat ons doelbewus verander om ’n beplande doelwit te bereik.
Hoe ons op verandering reageer het ’n beduidende impak op ons kwaliteit lewe en of ons wel dit sal bereik waarvoor ons gebore is. Ons mag nie toelaat dat verandering, onverwags of beplan, hoe sleg soms ookal, ons hoop vir die toekoms van ons steel nie. Ons is gebore vir ’n lewe van oorvloed – “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” (Johannes 10:10). Romeine 8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” Tussen die hede en die toekoms is daar ‘n onvermydelike brug genaamd verandering. Hoe en of ons wel die brug oorstap sal die kwaliteit van ons lewens bepaal. Stap dapper met hoop en geloof hierdie brug oor. Hou net aan stap!
“ God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. ”
1 Kor.10:13







