Teen myself, vir myself

Dit is so dat daar voortdurend mense sal wees wat jou in ‘n vorm sal wil giet eie aan hulle behoeftes en begeertes. Die ironie is dat meeste van hierdie mense goeie mense is en dit goed bedoel. Die realiteit is egter dat hulle nie die lewe in jou geblaas het, jou bekwaam het of bemagtig het nie. God het!

Ek besef gereeld dat ek nie oor die natuurlike vermoë beskik om mense voortdurend gelukkig te hou of hulle te maak hou van my nie. Net soos wat mense ‘n voorkeur het vir kos, het hulle ook ‘n voorkeur met watter tipe mense hulle wil omgaan. Indien mense jou nie altyd verstaan nie is dit ook goed. Ons is almal onvolmaak verskillend.

Ek het eenkeer gelees dat op 20 jaar wonder ons wat ander van ons dink, op 40 jaar gee ons nie regtig om nie en op 60 besef ons dat niemand eintlik ‘n saak met ons gehad het nie. Ongeag wat jy doen om in die goeie boekies van ander te kom, daar sal altyd diegene wees wat fout vind.

Daar word vertel van ‘n oupa wat sy kleinseun dorp toe geneem het met ‘n donkie. Met die vertrek het hy die seuntjie op die donkie laat ry. Die omstanders het gerebelleer dat dit skandelik was dat die seuntjie op die donkie ry terwyl die oupa moet loop. Ten aanhore daarvan klim die oupa toe op die donkie. Verdere kritiek was dat die oupa selfsugtig is om die seuntjie te laat loop. Moedeloos, klim beide op die donkie om weer eens gekritiseer te word dat hulle ongenaakbaar teenoor donkie is. Die uiteinde was dat hulle beide die donkie die dorp ingedra het.

Jy is nie geroep om elke mens gelukkig te hou nie. Jy is verantwoordelik vir jou eie geluk. Indien mense jou beheer is dit nie hulle skuld nie, maar jou eie.

“ Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. ”

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs