Om jou talente en passie te ontdek bevoordeel jy ook ander!


Mense sê soms vir my, my lewe is te besig. Ek is omtrent elke dag op ‘n ander dorp in die land. Ek geniet dit. Dit vat harde werk, maar ek leef my droom en dis vir my ‘n vreugde. In die proses, vergeet ek soms om na Lynette te kyk. My mense moes my al dokter toe dwing, omdat ek met ‘n hees stem en seer stembande net aanhou werk het.

Dankie vir hulle wat so na my kyk al protesteer ek soms. Feit van die saak is, jy moet onthou om vir jouself te sorg. Maak nie saak hoe besig jy is of hoe jy dit geniet om aanmekaar te werk nie. Dit is nie goed vir jou nie.

Probeer om so ver as moontlik gesond te eet. Ek weet dis nie altyd moontlik, as jy soos ek, heeltyd op die pad is nie, maar jou liggaam het gereelde gebalanseerde maaltye nodig. Dis die petrol wat jou aan die gang hou. Net soos jy jou motor gereeld moet volmaak met die regte soort petrol of diesel, moet jy dit met jou lyf ook doen.

Elke dag se stil word tyd is ook ‘n moet. Soos die ou tannie wat altyd seker gemaak het sy is vroeg by die kerk, sodat sy stil in die banke kan sit “vir my gees om weer my liggaam in te haal na die besige week, hartjie.” Ons het almal tye van stilte nodig om ons geestelike batterye te herlaai.

Dit is vir my hartseer om baie keer te sien dat dit juis die kerkleiers is wat uitbrand. Hulle raak so besig met die dinge van die Here, dat hulle nie by die Here self uitkom nie. Maak tyd in jou besige skedule vir stiltetyd en ook vir Bybelstudie. Hoe anders gaan jy weet jy is in nog in God se plan?

Slaap ook genoeg. Ek hoor al hoe lag my werkspan nou, maar onthou jy weet hoeveel slaap jy nodig het om optimaal te kan funksioneer. Moenie uithou en aanhou tot jy verby omval moeg is nie. Jy doen jouself net skade aan en ‘n moeë brein dink allerhande nonsens uit in plaas van om kreatief aan doelwitte te werk.

Sorg dat jy ook kwaliteit tyd saam met jou hartsmense in jou skedule inwerk. Tye waar dit net jy en hulle is, waar jy al jou aandag aan hulle kan gee. Onthou daar is net een van jou. Net jy kan jou drome gestalte gee, maar jy kan dit net doen as jy fiks, uitgerus en gesond is. So pas jouself mooi op!

“ Ons lewe deur die Gees, daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal. ”

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs