Menslief, ek hou van jou, maar nie van al jou gewoontes nie

In Suid-Afrika mag iemand se nooi dalk in ’n nartjie wees en sy ouma in kaneel, maar in Denemarke beslis nie! Daar is dit die ongetroudes wat met kaneel bestrooi word en ja, dit gebeur letterlik.

As jy op jou 25ste verjaarsdag nog nie getroud is nie, bind jou vriende en familie jou aan ’n stoel of paal vas en spat jou nat. Dan strooi hulle ’n wavrag kaneel oor jou wat dan aan jou vasplak en sorg dat jy dae lank soos ’n pannekoek ruik.

As jy op jou dertigste verjaarsdag steeds nie bruilof gehou het nie, word die spesery-bom opgegradeer na swartpeper. Hierdie (vir ons) ietwat vreemde gewoonte het na bewering ongeveer in die 16de eeu ontstaan. Vyfhonderd jaar later doen die Dene dit steeds.

In Kenia spoeg mense van die Masai-stam op hulle hande voordat hulle bladskud om ’n transaksie te beklink. Dit is ’n teken van uiterste respek. Hulle spoeg ook op babas en bruide om hulle geluk en voorspoed toe te wens.

Ons lag dalk vir Dene en hulle Pebersvend en ons gril dalk vir die slymerige maniere van ons “bure” op die ewenaar. Net so is daar mense wat na ons kyk en dink dat ons vreemde, snaakse en aanstootlike gewoontes het.

Buitelanders vind ons veeltaligheid en 11 amptelike landstale onbegryplik. Waarom mense vir ure om ’n vuur saamkuier en dan vleis eet, verstaan party van hulle ook nie.

Die grappies wat by hierdie braais vertel word, is dikwels vir die buitelandse gaste glad nie snaaks nie. Ons humor is glo te sarkasties en sluit te veel sensitiewe temas in.

Nog iets wat buitelanders vreemd vind is ons nasionale passie vir rugby. Daar is baie lande in die wêreld waar daar minder tyd en aandag aan hierdie sportsoort gegee word of dit glad nie bekend is nie. Dis húlle verlies, as jy my vra.

En natuurlik is ons kosliefdes nie vir alle mense oor die wêreld ewe lekker nie. Soetpampoen of soetpatats as groentedisse saam met skaapboud is afskuwelik, sê party oorsese gaste. Kaas en konfyt op jou toebroodjie of mieliepap met sous? Nee, dankie, gril party toeriste.

Dis vanselfsprekend dat mense uit verskillende lande en kulture mekaar se tradisies en gewoontes vreemd of amusant of afwykend sal vind. Soms is dit oor sake wat nie regtig aan jou geloof of waardes raak nie en ook nie regtig skadelik vir enigiemand is nie.

’n Man wat donkiejare gelede in Denemarke nie ’n vrou kon trou nie omdat hy te veel rondgereis het om handel in speserye te dryf, is ’n “pepervent” (Pebersvend) genoem. Dat dit aanleiding gee tot ’n komieklike Deense verjaarsdagtradisie is niks om jou neus voor op te trek nie.

Die Masai glo dat ’n mens se speeksel die essensie van jou menswees bevat. Dan snap ’n mens die gewoonte bietjie beter, want jy onthou jou eie kennis van bloedverbonde. Boonop weet jy dat jy altyd jou hande agterná weer kan skoonwas.

Voorliefdes vir kosse en sportsoorte kan ’n mens begryp al eet of jil jy nie saam nie. Jy aanvaar dat verskillende mense verskillende smake en dinge het waaroor hulle entoesiasties is en dat hierdie verskille oukei is.

Ons in Suid-Afrika verwerk traumatiese gebeure en ander ontstellende sake met ons “donker” grappe en ironiese uitlatings. Ons lag, maar dis met ’n traan en omgee daarbý. Dat ons gaste moontlik hieroor frons, verstaan ons.

En natuurlik wil ons hê dat wanneer mense in ons omgewing is dat hulle ons maniere van leef sal respekteer al verstaan hulle dit nie. Net so moet ons dan ook respekvol praat en optree as ons die gaste of vreemdelinge in ander omgewings is.

Trouens, op grond van wat ek in die Woord lees, wil ek hoop dat gelowiges waarlik weet dat ons te alle tye mense wat anders is as ons met respek moet behandel. Deuteronomium 10:19, Matteus 7:12 en 1 Petrus 2:17 is maar enkele van die Bybelverse waarin dit bevestig word.

Maar wat nou van gewoontes of tradisies wat mense seermaak of verneder? Wat moet ons sê of doen oor gruwels soos voetbindery en huelikswette wat volwassenes toelaat om met ’n kind te trou? Moet ’n mens dan ook maar net sê dis “tradisie”, dis hoe mense van mekaar verskil en dit gelate aanvaar?

 

Volgelinge van Jesus moet in die krag van die Gees onderskei wanneer om aktiviste te word sodat hulle lig vir die wêreld en sout vir die aarde kan wees. Gelowiges moet konflik-kompetent word sodat hulle met emosionele intelligensie kan opstaan vir geregtigheid wanneer dit nodig is om ’n tradisie te stop of hersien.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Kyk na jouself
Passion

Kyk na jouself

Mense sê soms vir my, my lewe is te besig. Ek is omtrent elke dag op ‘n ander dorp in die land. Ek geniet dit.

Read More »