Die kabaal en kohesie van katlagters

“Wat gaan tog nou vandag weer met die katlagters aan? Vir wat raas hulle so? ’n Mens kan jouself nie hoor dink nie. Moet hulle so luidrugtig wees?” So kla iemand terwyl ons onder ’n koelteboom kuier en die gevleuelde bure luidkeels hulle teenwoordigheid aankondig.

Agterná, toe ek terugdink aan die mooi dag, het ek so ’n bietjie warm onder my kraag geword. Want hoe dikwels hoor ek nie dat mense smalend na ander persone (meestal vroulik van geslag) as “kekkelbekke” of “kletskouse” verwys nie.

Sommige onderwysers en party ouers kla dat ’n kind (gewoonlik ’n meisie) te veel vrae vra en die orde in die klas of die huis versteur. Of sy lag veels te uitbundig – wat dan as “onvroulik” verdoem word.

Hierdie stereotipe dat vroue onnodig, te veel en te hard praat sluip soos ’n jakkalsie in ons wingerde rond en saai verwoesting. Is dit ’n mans-versus-vroue-ding? Of is dit meer ’n verskil tussen die temperamente?

Die katlagters wonder nie hieroor nie. Hulle het met hulle kabaal het heel waarskynlik mekaar se lewens gered deur hulle waarskuwingsroepe oor ’n slang of ’n ander indringer. Al die lede van hul groepie het danksy die uitbundige kakelaars presies geweet waar hulle heen moet beweeg in hulle soektog na iets te ete.

Nie een enkele katlagter het al ooit gekla oor die kabaal nie. Hulle voel tuis, hulle voel veilig en weet presies waar hulle hoort. Hulle vlieg nie van koers af nie, kry toegang tot kossies en slaapplek, en beland nie sommer in die moeilikheid nie. En dit is als danksy die raasbekkies om hulle.

Net so is daar mense wat gebore is met stemme wat gehoor moet word. Hulle is die waaksame, oop-oë mense wat ons wys waar die afgronde en die dwaalspore is. Hulle huiwer nie om te roep (of te fluister) soos nodig nie: “Loop hierlangs, nie dáár nie!”.

Die katlagters in ons lewens maak ook met hulle hartlike gesels en uitvraery oor hoe dit met jou gaan van óns huise tuistes. Waar iemand met gulheid en uitbundigheid lag, is die liefde gewoonlik ook oorvloedig.

Dis ’n universele verskynsel dat vroue wat ’n kabaal in die kombuis opkook, families bymekaarhou. Mense plaas deesdae selfs humoristiese video’s op YouTube van Bulgaarse, Russiese, Italiaanse of Griekse vroue wat onophoudelik gesels en lag terwyl hulle in potte roer en groente opkerf.

Uit die kommentaar is dit duidelik dat groot groepe mense dan ’n konneksie met mekaar in ’n deurmekaar wêreld voel. Soms, as die oumas, ma’s en tantes hemel toe verhuis het, spat die familie uiteen, vertel hulle vir mekaar so op sosiale media.

Dan word die raserige, deurmekaar, ietwat rumoerige kuiers in die jonger generasie se herinneringe opeens minder hinderlik. Dan word die verlange na geborgenheid intens.

Koester daarom die (waarskynlik Geel en Rooi) katlagters in jou lewe. Gee gehoor aan die waarskuwings en voel die omgee in hulle stortvloed woorde. Hoor die goedheid van die Here en die vreugde van menswees waar iemand skaterlag..

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Life isn’t fair
Inspiration

Life isn’t fair

I am a declared optimist. Negative people give me the jitters and I cannot get out of their company fast enough. But I am also

Read More »
Exercise routine
Inspiration

Exercise routine

In my early years, as a young athlete, I was taught the ingredients of a balanced exercise programme. To prevent injuries and prepare me for

Read More »