Toe beland ek langs ‘n klakous

Emosionele gesondheid hang baie af van jou vergenoegdheid!


Dit is Vrydagaand 17:45, my laaste vlug vir 2016 vanaf King Shaka na Oliver Tambo. Ek sit in ry 7C langs ‘n man in sy middel veertigs. Sy hele gesig sê, praat met my en ek sê vir myself: “Nee hier moet jy dadelik jou oë toemaak, anders gaan dit ‘n veeleisende vlug wees.” Ek sluit my oë, maar onthou van ‘n dringende e-pos wat ek moet antwoord. Ek het skaars my getroue vriend – Mac – op my skoot, of meneer “Praat” val weg met ‘n vraag en dit was die begin van ‘n uitmergelende vlug.

Hy kla oor die lugredery, hy kla oor die weer, hy kla oor die politiek, hy kla oor die kerk, hy kla or die jeug, hy kla oor die ekonomie ens. Ek sit daar vasgevang in my sitplek en wil net gil: “HOU TOG NET OP KERM EN KLA!” Jy het suurstof in jou longe, dit beteken jy het die gawe van lewe! Jy het beide jou bene, arms, oë, hande, voete, al jou vingers! Magtig man, jy bly in ‘n land met ‘n vrye godsdiens, jy vlieg en hoef nie 6 ure te ry nie! Stop jou twak!

Ek besef opnuut dat dankbaarheid die goue sleutel tot die lewe is. Ons moet harte hê wat oorloop van dankbaarheid, want dan sal ons minder fout vind met mense en dinge waaroor ons in elk geval geen beheer het nie.

Wat hy ook al van ons land, die kerk, die ekonomie, die lugredery ens. gesê het, het my nie minder van hulle laat dink nie, maar wel jammer vir hom laat voel. Hierdie man was inherent ‘n ongelukkige mens en geen positiewe persoon wil graag met sulke mense assosieer nie.

Die goeie nuus is dat hierdie man kan verander as hy wil. God het ons vrye morele agente gemaak. Ons het keuses. Ons kan doelbewus kies om dankbare mense te wees wat dan noodwendig ‘n positiewe bydrae tot die lewe sal lewer. Kies vandag om dankbaar te leef. Ander sal dit hoor, wanneer jy jou mond oopmaak!

“ Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag. ”

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs